Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Perlemoen: Baasbrein van sindikaat pleit skuldig

Die vermeende baasbrein agter ’n perlemoensindikaat in Port Elizabeth het aanvanklik Maandag alleen in die beskuldigdebank verskyn nadat sy medebeskuldigdes in die saak skuld beken het, maar hy het ná enkele ure in die hof ook besluit om sy pleit van onskuld te laat vaar.

Uit die oorspronklike agt verdagtes wat in 2016 vir die bedryf van ’n onwettige perlemoensindikaat aangekeer is, was dit slegs Morné Blignault (46), vermeende baasbrein, wat Maandag met die hervatting van die verhoor nog die staat se saak in die hooggeregshof in Port Elizabeth betwis het.

Morné Blignault saam met Alwyn Griebenow, sy regsverteenwoordiger, in die hof. Foto: Lulama Zenzile

Maar oomblikke voor Brett Killian (29), ’n art.204-staatsgetuie, deur adv. Martin le Roux, staatsaanklaer, Maandagmiddag geroep is om teen Blignault te getuig, het hy skuld beken op die aanklagte van rampokkery teen hom.

Voor Killian sou getuig, het ao. Leon Eksteen, ondersoekbeampte in die saak, getuienis gelewer oor ’n onwettige perlemoen-verwerkingsaanleg op die plaas Olifantskop, in Coega, wat op 11 Augustus 2014 deur die Valke aan die lig gebring is.

Eksteen het die onwettige aanleg as “die grootste misdaadtoneel in die Oos-Kaap” bestempel.

Daar was 37 356 eenhede perlemoen op die plaas, ter waarde van sowat R5,2 miljoen.

Killian en twee Chinese burgers, Huang Zhenyong (32) en Pan Kekun (53), is op die toneel aangekeer.

Eksteen het Maandag getuig van droograkke, gasbottels, waaiers, asook nat en gedroogte perlemoen wat op die toneel gekonfiskeer is. Hy sê kookpotte waarin die perlemoen gekook is, was so groot dat roeispane as roerlepels gebruik is.

Brett Killian, die art. 204-staatsgetuie, wat Maandag teen Morné Blignault sou getuig. Foto: Lulama Zenzile

Die staat beweer die verwerkingsaanleg is deur Blignault op die been gebring om die onwettige perlemoen-bedrywighede te bestuur.

Zhenyong en Kekun, Blignault se medebeskuldigdes, het verlede jaar skuld beken op al die aanklagte teen hulle en is elk altesaam 31 jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is. Hulle is reeds na China gedeporteer.

Die res van Blignault se medebeskuldigdes, Marshelle Blignault (38), Jacob Naumann (34), Frederick Nance (20), Petrus Smith (32) en Willie Nance (53), het verlede jaar almal onskuldig gepleit, maar het egter op 22 Augustus skuldig gepleit op die aanklagte teen hulle. Blignault het steeds onskuldig gepleit.

Buiten vir Willie Nance, het die res skuld beken op aanklagte van rampokkery weens die perlemoen-verwerkingsaanleg.

Willie is op aanklagte van verwerking- en die vervoer van onwettige mariene hulpbronne skuldig bevind.

Hulle sal op 20 September gevonnis word.

Luidens Marshelle se skuldbekentenisverklaring het sy en Blignault, wat voorheen getroud was, die sindikaat saam gestig.

Sy erken die perlemoen is tussen Julie 2013 en Augustus 2014 langs die Suid-Afrikaanse kus gestroop, maar hoofsaaklik in die Port Elizabeth-distrik, en by die gehuurde plaas in Coega geberg, waar dit ook verwerk is.

Haar verklaring lui verder hoe haar medebeskuldigdes, Nance en Smith, op verskeie geleenthede perlemoen na die gehuurde plaas vervoer het, en dat hulle gas aangekoop het vir die verwerkingsproses van die perlemoen.

Morné Blignault groet sy seun, Morné, in die hof nadat hy skuldig gepleit het. Foto: Lulama Zenzile

Eksteen het Maandag in sy getuienis gesê meer as R28 000 se gas is tussen 7 Maart 2014 en 6 Augustus 2014 aangekoop.

Die gas is op Willie, wat voorheen ’n worsrolletjie-stalletjie bedryf het, se naam aangekoop.

Marshelle het in haar verklaring gesê Naumann het die plaas gehuur, asook Blignault gehelp met die vervoer, verwerking en berging van perlemoen.

Naumann, Nance, Smith, Willie, Kekun en Zhenyong, asook Killian, was te alle tye werknemers van die organisasie, het sy gesê.

Killian het ná sy inhegtenisneming saam met die Valke gewerk om sekere perlemoen-bergplekke uit te wys.

Killian sou Maandag getuienis lewer oor dié aanleg se bedrywighede, asook aan die hof sekere beeldmateriaal verduidelik, wat met ’n geheime kamera deur die Valke op Olifantskop tydens die bedrywighede geneem is.

Killian sê hy het perlemoen na Olifantskop vervoer, terwyl Nance en Smith die werkers was wat die perlemoen in groottes en gewig gesorteer het. Willie het die gedroogte perlemoen na Gauteng aangery.

Eksteen het gesê die kamera is op die plaas geïnstalleer nadat die plaaseienaar hulle van vermoedelike onwettige perlemoen op die plaas ingelig het.

Maar voordat Killian in die getuiebank kon inskuif, het Blignault se eksvrou, hul dogter en seun, by die hof ingestap.

Alwyn Griebenow het aan regter Dayalin Chetty gesê dat Blignaut op die aanklagte teen hom skuldig pleit en ’n verklaring van Killian erken.

Luidens Killian se verklaring was Blignault, Marshelle en Naumann die hoofbestuurders van die sindikaat en het hulle perlemoen-bergplekke in Newtonpark, Bridgemead en Kruisrivier gehad.

Hy beweer Naumann was die hooforganiseerder van die bedryf, wat deur perlemoen-verkopers gekontak is. Naumann het op sy beurt geld by Blignault en Marshelle vir die aankope ontvang.

Killian sê hy het perlemoen na Olifantskop vervoer, terwyl Nance en Smith die werkers was wat die perlemoen in groottes en gewig gesorteer het. Willie het die gedroogte perlemoen na Gauteng aangery.

Blignault het Killian se verklaring erken en Le Roux het die staat se saak gesluit.

Chetty sal Woensdag uitspraak lewer en voorvonnisverrigtinge sal volg.

Ná afloop van die hofverrigtinge het emosionele tonele gevolg toe Blignault se familielede hom in trane gegroet het.

Blignault het sy familie sekondes lank omhels voordat hy na die aanhoudingselle geneem is.

Meer oor:  Baasbrein  |  Perlemoensindikaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.