Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Perlemoen-man vra vir genade

Dit sou die perlemoensindikaat minstens R2 miljoen kos om ses ton se perlemoen aan te koop, maar die verdediging vir die baasbrein agter die sindikaat voer aan hy het finansieel swaargekry.

Morné Blignault in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Oomblikke nadat regter Dayalin Chetty vir Morné Blignault (47) in die hooggeregshof in Port Elizabeth aan rampokkery skuldig bevind het weens ’n onwettige perlemoenverwerkingsaanleg wat hy op die been gebring het, het hy die hof vir genade gevra.

Blignault het Maandag skuld beken op die aanklagte teen hom, nadat hy in 2016 weens die onwettige perlemoen-verwerkingsaanleg aangekeer is.

Die Valke het dié aanleg op 11 Augustus 2014 op die plaas Olifantskop in Coega, aan die buitewyke van Port Elizabeth oopgevlek.

Daar was ongeveer ses ton se perlemoen op die plaas, ter waarde van sowat R5,2 miljoen.

Dennis Mostert, hoof van Port Elizabeth se kantoor van die departement van landbou, bosbou en visserye, het vroeër in die saak getuig, waarin hy aangevoer het dié groot hoeveelheid perlemoen sou teen minstens R2,5 miljoen aangekoop moes word.

Tog het Alwyn Griebenow, Blignault se regsverteenwoordiger, aangevoer sy kliënt het vir die afgelope 15 jaar verskeie maatskappye besit en bestuur, maar nie een hiervan was hoegenaamd finansieel suksesvol nie.

Blignault het Westview High School in gr. 10 verlaat en daarna as ’n masjienwerktuigkundige gewerk voordat hy sy eie maatskappye, hoofsaaklik nagklubs, bedryf het.

Volgens Griebenow het Blignault se Club Shakes in Noordeinde die beste gevaar en het hy op ’n goeie maand R30 000 verdien.

Griebenow het ook Blignault se vorige veroordelings aan die hof bekend gemaak, wat onder meer ’n saak van aanranding, diefstal, die besit van perlemoen en die rig van ’n vuurwapen insluit.

Blignault is tussen 1992 en 2009 op die onderskeie klagte skuldig bevind en Griebenow het Chetty gevra om nie die perlemoenveroordeling in ag te neem nie, omdat dit 17 jaar gelede was.

Beamptes van die Dark Water Ops se teenperlemoenstropingseenheid in Port Elizabeth, wat ook deel was van die oopvlek van die onwettige perlemoen-verwerkingsaanleg, was Woensdag in die hooggeregshof teenwoordig toe Morné Blignault skuldig bevind is. Van links staan Gerco Maliepaard, Musi Mgushelo, Hein Klopper, Dawie Rossouw, Divan Oosthuizen, Duane de Lange, Nicci Swartz, Nicky Erasmus en Robert Gibb. Foto: Cara-Lee Dorfling

Griebenow sê ’n vonnis van 19 jaar, waarvan ’n paar jaar opgeskort is, sal gepas wees.

Maar adv. Martin le Roux, staatsaanklaer, sê ’n langtermyntronkstraf sal gepas wees vir die baasbrein van die sindikaat.

Hy het ter strafverswaring weer Mostert se getuienis, wat vroeër in die saak gelewer is, by die hof ingedien.

Mostert het in dié getuienis die uitwerking van perlemoenstropery op die omgewing verduidelik en ook die bedrywighede op Olifantskop beskryf as die grootste onwettige perlemoenverwerkingsaanleg wat tot dusver in die Oos-Kaap oopgevlek is.

Le Roux sê Mostert se getuienis was duidelik, iemand het die ses ton perlemoen wat op die plaas gevind is, aangekoop.

Blignault het volgens Le Roux nie geleef op die geld wat hy uit nagklubs gemaak het nie, maar met geld van misdadige aktiwiteite.

Le Roux het ook aan Chetty uitgewys dat Blignault aanvanklik skuld ontken het, terwyl sy medebeskuldigdes twee weke gelede almal skuld beken het.

Blignault het eers Maandag, nadat die verhoor met sterk getuienis teen hom begin het, skuld op die aanklagte beken.

Blignault sal op 19 September gevonnis word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.