Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Perlemoenstropers ná 12 j. op alle aanklagte skuldig bevind

Twee van die betrokkenes in ’n perlemoensaak wat 12 jaar gelede op die hofrol geplaas is, is Woensdag in die streekhof op al die aanklagte teen hulle skuldig bevind.

Denver Langenhoven het tereggestaan op altesaam 246 aanklagte van onder meer rampokkery, die onwettige stroop, verkoop en besit van perlemoen, die onwettige vervoer van perlemoen sonder die nodige permitte, die bedryf van ’n visverwerkingsaanleg sonder die nodige permitte of toestemming van die betrokke minister, en aanklagte dat hy perlemoen sonder die nodige permitte uitgevoer het.

Hy het ook op twee aanklagte van bedrog tereggestaan. Luidens die klagstaat het Langenhoven nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verklaar presies watter produkte hy uitvoer nie.

Solomon Sauls het op 13 aanklagte tereggestaan – een van rampokkery en 12 van die onwettige stroop, verkoop, ontvangs of besit van perlemoen en die onwettige vervoer daarvan.

Die Suid-Afrikaanse owerhede soek nog na twee ander mense, die beweerde groot geeste in die sluikhandelnetwerk waarby meer as R20 miljoen se perlemoen tussen Mei 2004 en Mei 2006 na onder meer Hongkong uitgevoer is, nadat hulle landuit gevlug het.

Zhiming Yuan, ook bekend as Ziming Yuan, en Long Chau Wu het onderskeidelik op 31 Januarie 2011 en 10 September 2015 landuit gevlug. Hulle was uit op borgtog van onderskeidelik R500 000 en R200 000.

Yuan word ook betrek by die vonds van 1 716 kg kokaïne waarop die polisie in Desember 2010 op ’n boot, die Toledo, in Knysna se hawe beslag gelê het.

Yuan word ook betrek by die vonds van 1 716 kg kokaïne waarop die polisie in Desember 2010 op ’n boot, die Toledo, in Knysna se hawe beslag gelê het. Hy is glo die persoon wat die geld vir die aankoop van die boot betaal het.

Die saak teen een ander beskuldigde is op 7 Desember 2011 teruggetrek. Nog ’n beskuldigde, Leslie Abrahams, ’n lid van die 28-bende en beweerde bendebaas in Napier in die Overberg, is in 2011 ses jaar tronkstraf vir sy aandeel in die sindikaat opgelê.

Hulle is in Mei 2006 in hegtenis geneem. Die saak het in 2008 op die streekhofrol verskyn.

Luidens die klagstaat het Langenhoven vir Yuan en Chau Wu gewerk. Hy het ’n visverwerkingsaanleg, genaamd Cape Tuna Traders, in Woodstock begin. Hier is die gestroopte en verwerkte perlemoen met vis gemeng, verpak en na die buiteland uitgevoer onder die voorwendsel dat dit vis is wat uitgevoer word.

Die perlemoen is onder meer by persele in Bettiesbaai, Kleinmond, Somerset-Wes, Athlone, Kraaifontein, Durbanville, Monte Vista, Goodwood, Plumstead, die Paarl en Killarney Gardens verwerk, waarna dit na die visfabriek in Woodstock gebring is en saam met bevrore vis verpak is.

Langenhoven se regsverteenwoordiger het ná hul skuldigbevinding ’n aansoek gebring waarin hy gevra het dat sy kliënt se borgtog tot vonnisoplegging verleng word.

Hy het gesê sy kliënt is midde-in ’n saketransaksie wat die inkomste van baie Suid-Afrikaners en mense elders in Afrika kan raak en dat daar niemand anders by die onderneming is wat sy kennis het nie. Hy het die tyd nodig om mense op te lei om sy plek in te neem en moet ook sy persoonlike lewe, soos sy gesin, uitsorteer.

Sy regsverteenwoordiger het verder gesê hulle gaan ook vra vir ’n proefbeampte-verslag, ’n korrektiewe verslag en ’n verslag van ’n maatskaplike werker. Langenhoven sal self hiervoor betaal, het sy regsverteenwoordiger gesê.

Hy het ook gesê sy kliënt het hom reeds opdrag gegee om teen die skuldigbevinding en/of vonnis te appelleer.

Sy prokureur het ook gevra dat die hof dit moet oorweeg om hom ’n boete eerder as direkte tronkstraf op te lê.

Die onderneming waarvoor hy werk, is volgens sy prokureur bereid om ’n aansienlike gedeelte van die boete te betaal, sou die hof daarop besluit.

Die staatsaanklaer, adv. Blaine Lazarus, het in antwoord hierop gesê dat Langenhoven lank genoeg tyd gehad het om sy persoonlike omstandighede uit te sorteer. Hy het gesê konsultasies vir al die verslae wat hy as vonnisversagting by die hof wil indien, kan van die Pollsmoor-gevangenis af gereël word.

Lazarus het ook aan die hof gesê die aanklagte van rampokkery alleen regverdig direkte tronkstraf. Dit is benewens die ander aanklagte waaraan hy skuldig bevind is.

Sauls dien reeds 14 jaar tronkstraf uit vir ’n ander onverwante saak waarvoor hy in die voorkeurhof in Khayelitsha gevonnis is.

Hy is ook ’n beskuldigde in ’n perlemoensaak in die hooggeregshof waarby amptenare van die departement van visserye, landbou en bosbou betrokke is. Die staat vra nie minder nie as 18 jaar direkte tronkstraf vir albei.

Die saak is tot 11 en 12 November vir vonnisoplegging uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.