Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Piet Retief: ‘Boere is vals beskuldig’

Waarskuwing: Hierdie berig bevat ‘n grafiese foto wat sensitiewe lesers kan ontstel.

Een van die mans wat verlede week in ’n oproerige onderonsie naby Piet Retief gesterf het, is deur sy eie broer geskiet, beweer talle boere wat verlede Vrydag op die toneel was waar die tragedie hom afgespeel het.

Die plaas waar die tragedie hom afgespeel het. Foto: Deon Raath

Ook word beweer een van die vier boere wat weens die dubbele moord in hegtenis geneem is, het eers ná die skietery by die toneel opgedaag. Dit is maar net twee van verskeie weergawes van dié veelbesproke voorval op die plaas Pampoenkraal, naby Piet Retief, waartydens twee mans doodgeskiet is.

Vier boere van die distrik – Cornelius Greyling (25), Ignatius Steynberg (31), Danie Malan (38) en Othard Klingenberg (53), is onmiddellik ná die voorval in hegtenis geneem weens die moord op die plaasbewoner-broers Amos en Zenzele Coka. ’n Vyfde verdagte, Zenzele Yende, die plaasvoorman op Pampoenkraal, is ook intussen in hegtenis geneem en het Vrydag in die landdroshof in Piet Retief verskyn. Al vyf verskyn na verwagting Maandag in die hof vir ’n formele borgtogaansoek.

Nog ’n verdagte, wat volgens die nasionale vervolgingsgesag in die hospitaal was toe die polisie hom wou arresteer, het blykbaar onderneem om homself aan die polisie oor te gee sodra hy ontslaan word.

Rapport het die afgelope week met mense gepraat wat kennis dra van wat die dag gebeur het. Daar is uiteenlopende weergawes.

‘Amos Coka het wild begin skiet.’

Die boere se weergawe – Rapport het met verskeie van hulle individueel gepraat – stem breedweg ooreen.

Geeneen van hulle wou hul naam genoem hê nie uit vrees vir vergelding.

Een boer sê die onrus op die plaas Pampoenkraal, sowat 60 km suidwes van Piet Retief in die suide van Mpumalanga, duur al twee weke.

“Ons het baie moeilikheid tussen boere en mense met verblyfreg op plase in hierdie omgewing,” sê hy.

“Die mense met verblyfreg wil nie op die plase werk nie, maar hulle wil ook nie hê seisoenale werkers van buite moet in oestyd vir die boere werk nie.”

Hy beweer die eerste oproeriges het verlede Vrydag omstreeks 11:00 by die plaas opgedaag om werkers te intimideer wat besig was om sojabone te sif. “Die werkers het hul werkgewer, Werner Potgieter, gebel. Hy het opgedaag en met die oproeriges probeer praat. In die proses is hy met ’n knopkierie oor die kop geslaan.

“Die man wat hom aangerand het, is in burgerlike arres geplaas en met cable ties geboei en die polisie is gebel. Terwyl die boere vir die polisie gewag het, het die Coka-broers en nog moeilikheidmakers opgedaag om hom te bevry,” sê die boer.

Hansie Moolman ná die voorval. Hy lê met skedelbreuk in die hospitaal in Ermelo. Foto: Verskaf aan Netwerk24

Potgieter het volgens hom dadelik op ’n plaaslike noodnetwerk hulp ontbied.

“Sy bure en boere van oral het ingejaag om te help . . . Daar was uiteindelik omtrent 30 boere en net meer as 20 oproeriges.”

Hy sê die boere en die oproeriges het oorkant mekaar stelling ingeneem op die grondpad wat langs Pampoenkraal verbyloop. Die gemoedere het hoog geloop en ’n buurman van Potgieter, Hansie Moolman, het blykbaar na die groep geloop “om met hulle te onderhandel”. Moolman is aangerand – so erg dat hy in die hospitaal lê met skedelbreuk. In die daaropvolgende verwarring is nóg ’n boer, Malan, ook met ’n pyp of kierie oor die kop geslaan, wat sy oogbank oopgekloof het. In die gemaal het een van die boere wat neergevel is – blykbaar Moolman – se pistool glo “uit sy holster geval”.

’n Ander bron neem die storie verder: “Amos Coka (een van die oorledenes) het die pistool gegryp en wild en wakker begin skiet. Met een van dié skote het hy sy broer, Zenzele, noodlottig getref. Amos het agter ’n bakkie, wat in die grondpad gestaan het, ingehardloop en deur die (oop) vensters op die boere geskiet. Toe skiet die boere terug.”

Hy beweer een van die boere het Amos Coka uit noodweer geskiet oomblikke nadat hy (die boer) op die toneel aangekom het.

“Toe die polisie daar aankom, het (dié boer) dadelik erken (dat hy Coka geskiet het) en sy vuurwapen oorhandig. Hulle het die bakkie in die grondpad met polisielint afgesper en hom daar laat wag.” (Die man is een van dié wat in hegtenis geneem is. Sy naam word op regsadvies weerhou.)

Die toneel waar boere en oproeriges mekaar verlede Vrydag gepak het. Twee plaasbewoner-broers, Amos en Zenzele Coka, is dood. Vier boere is gearresteer, met nog twee arrestasies wat die afgelope week gemaak is. Al ses beskuldigdes verskyn Maandag in die hof. Foto: Verskaf aan Netwerk24

Een van die boere blameer ook die polisie dat hulle so lank geneem het om te reageer. Hy sê hulle het die polisie voor 11:00 al gebel om te sê hulle het probleme. Die skietery het eers ná 12:00 uitgebreek en dit is eers toe dat die polisie gereageer het. Die naaste polisiekantoor aan Pampoenkraal is maar 10 km weg.

Nóg ’n boer, wat “sowat 20 minute ná die voorval” op die toneel was, beweer Steynberg, wat in aanhouding is, het min of meer saam met hom op die toneel aangekom en het niks met die skietery te doen gehad nie. Hy sê nadat die polisie opgedaag het, het die twee groepe, die klaers en die boere, weer weerskante van die pad stelling ingeneem met die polisie in die middel. Die oproeriges het die name van boere wat glo op hulle geskiet het begin uitroep, waarna die polisie dié mans in hegtenis geneem het.

“Dis baie problematies,” sê een boer. “Hulle ken net die name van die boere in daardie wyk, so dis net dié mense wat gearresteer is, onder meer Naas (Steynberg).

“Ek was op pad na my bakkie (toe Steynberg se naam geroep word). Ek roep hom toe en sê die polisie soek hom. ‘Wat wil hulle by my hê?’ wou hy weet toe hy nader stap. Toe word hy ook gearresteer.”

Boere beweer ook die ondersoekwerk was gebrekkig en dat die polisie nie genoeg pluisies gehad het om kruitmonsters op die verdagtes se hande te kon neem nie.

So is ’n vyfde boer wie se naam ook deur die oproeriges uitgeroep is, blykbaar laat gaan omdat hulle nie sy hande kon toets nie.

Die Coka-broers se hande is in plastieksakkies gesit voordat hul lyke verwyder is, klaarblyklik om enige forensiese getuienis te probeer beskerm.

Een van die boere sê toe die inhegtenisnemings begin, het baie van hulle besef “hulle moet hulle uit die voete maak”. “Omtrent die helfte van die boere het toe begin ry.”

Die boeregemeenskap se weergawe word betwis deur van die oproeriges, wat sê hulle was bloot op die plaas om werk te soek.

Die polisie het vroeër die week gesê die groep wat op die plaas betoog het, beweer hulle het gaan werk soek en later – nadat hulle van die plaas weg is – agtergekom een van die mense in hul groep het op die plaas agtergebly. Toe hulle terugkeer, het hulle gevind dié persoon is aangerand. Dit het gelei tot die oproerigheid waartydens die twee broers geskiet is.

Nathi Coka, ’n woordvoerder vir die broers se familie, sê hulle wil hê Potgieter moet sy plaas verlaat, “omdat hy swart mense teister”. “Hy wil nie saam met swart mense leef nie.”

Nog ’n weergawe is dié van ’n plaaslike tradisionele leier en dagbestuurslid van Insika Yesizwe (die “Pilaar van die Nasie”), ’n sambreelorganisasie wat na landelike inwoners se regte omsien. Hy sê ’n dispuut oor beeste het tot die ongelukkigheid gelei. Die hoofman het aanvanklik vir publikasie met Rapport gepraat, maar later gevra dat sy naam nie genoem word nie.

“Ek het met die mense van ons gemeenskap gepraat en my eie ondersoek gedoen. Hierdie hele storie is net politiek.

“As ek en ander mense van ’n afstand af kom en by jou plek kom baklei, wie is verkeerd?”

Hy sê die oorsprong van die konflik was ’n bakleiery oor beeste.

“Die mense sê die boer het van hul beeste doodgemaak en hulle was daar om die saak reg te stel.

“Daar is ook mense wat sê die boer behandel sy werkers sleg.”

Hy sê die staatsfunksies soos polisiëring bestaan nie op die Suid-Afrikaanse platteland nie.

“Ek gee nie die mense die skuld nie, dis die politici. Hulle doen nie hul werk nie.

“Waar was die munisipaliteit in hierdie ding? Dit moes nooit tot ’n skietery gevorder het nie. Ons het ’n maand lank probeer om die mense te oortuig om nie te betoog nie.

“Die mense het baklei, een het op die boere geskiet en hulle het teruggeskiet. Dis ’n duidelike geval van selfverdediging,” sê die man.

“Ek het daardie aand my gesig probeer was. Ek het soveel gehuil, ek het nie geweet wat is water en wat is trane nie.”

Kol. Donald Mdluli, ’n polisiewoordvoerder in Mpumalanga, wou nie kommentaar lewer nie.

“Die saak is voor die hof, daarom sal dit nie reg wees as ek kommentaar lewer nie. Die reg moet sy loop neem.”

Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Mpumalanga, sê Malan, Greyling, Klingenberg, Steynberg en Yende word aangekla van die moord op die Coka-broers en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Malan word ook van dwarsboming van die gereg aangekla omdat hy glo nie sy vuurwapen aan die polisie wou oorhandig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.