Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Piet Retief: ‘Ek't nie geskiet nie,’ sê beskuldigde

Daniel Cornelius Malan (38), een van die ses beskuldigdes wat tereg staan op aanklagte van moord op twee broers op ’n plaas in Piet Retief, voer aan hy het nie ’n enkele skoot afgevuur nie.

Malan, Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53) en Ignatius Michael Steynberg (31) het Maandag saam met Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) in die landdroshof in Piet Retief verskyn.

Die sesde verdagte, Werner Potgieter, is nog in die hospitaal.

Hulle staan almal tereg op twee aanklagte van moord op die broers Amos en Zenzele Coka.

Die aanklagte van ontvoering en poging tot moord hou verband met die voorval op 9 April toe Nhlanhla William Hlatswayo na bewering aangehou en geboei is en met ’n piksteel geslaan is, geskop en met pepersproei in die oë gespuit is.

Daniel Malan sit in die agterste ry, regs. Foto: Isabel Venter

Luidens die voorlopige klagstaat word Malan ook van dwarsboming van die gereg aangekla omdat hy glo geweier het om sy vuurwapen aan die polisie te oorhandig.

Malan sê in sy verklaring, wat vir die rekord in die hof voorgelees is, hy het nie ’n enkele skoot op 9 April afgevuur nie.

“Ek het op die plaas aangekom ná daar op WhatsApp-groepe om hulp gevra is. ’n Groep betogers het by die plaas opgedaag en die plaaseienaar, Werner Potgieter, van die plaas Pampoenkraal, begin aanrand. Potgieter is met pype geslaan en het erg gebloei.”

Malan sê terwyl hy saam met ander boere naby Potgieter gestaan en die betogers probeer kalm hou het, het daar twee voertuie stilgehou.

“Twee mans, met aggressiewe houdings, het uitgeklim. Een het sy hemp uitgetrek.”

Malan het gesê een van die mans het hom met ’n pyp geslaan, en hy het bewusteloos inmekaargesak.

Nog ’n boer, Hans Moolman, is in die stadium volgens Malan ook erg aangerand.

“Sover ek weet, is hy (Moolman) nog in die hospitaal en het hy al twee dringende operasies ondergaan,” lui die verklaring.

Malan het sy bewussyn herwin en gehoor hoe word verskeie skote afgevuur. Hy is nie seker wie die skote afgevuur het nie.

“Ek wil dit duidelik stel geen skote is afgevuur vóór ek en Moolman aangerand is nie,” sê hy in die verklaring.

Hy sê die polisie het tot op datum nie die saak deeglik ondersoek nie, en hy kan nie verstaan hoekom hy in hegtenis geneem is nie.

Malan is van plan om onskuldig te pleit indien hy verhoor moet word.

Meer oor:  Daniel Cornelius Malan  |  Misdaad  |  Piet Retief-Voorval  |  Moord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.