Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Piet Retief: Woede oor ‘polisie se leuens’

Boere van Piet Retief het met skok en woede gereageer op mediaberigte wat die naweek die wêreld ingestuur is toe twee broers, Amos en Zenzele Coka, Vrydag op ’n plaas doodgeskiet is.

In ’n aanvanklike mediaverklaring wat die polisie uitgereik het, is gesê ’n boer het twee werksoekers op ’n plaas in die Dirkieskop-omgewing doodgeskiet.

Die polisie wou nie Maandag verder op medianavrae reageer nie en sê die saak is nou sub judice.

Twee boere is Vrydag so erg op dieselfde plaas buite Piet Retief aangerand dat hulle in die hospitaal opgeneem is, terwyl ’n derde boer in ’n aanhoudingsel in Piet Retief mediese behandeling ontvang het.

Die toestand van een van die ernstig beseerdes, ’n boer wat in Newcastle in die hospitaal behandel word, is stabiel. Hy het reeds twee operasies ondergaan omdat hy 'n skedelbreuk opgedoen en bloeding op die brein het. Dié man se gesin het gevra dat sy naam nie bekend gemaak word nie. Die hospitaal waar die man opgeneem is, het bevestig dat hy daar behandel word.

Die polisie het Maandag ontken dat enige boer ernstig beseer is.

piet retief, 2 doodgeskiet
Die toneel waar die broers Amos en Zenzele Coka op ’n plaas in die Piet Retief-omgewing doodgeskiet is.

LEES OOK: Werkers sterf: Piet Retief-mans bly in aanhouding

’n Dokter het aan Netwerk24 bevestig dat sy in die aanhoudingsel ’n kopwond moes toewerk wat nog ’n boer, Danie Malan (38), opgedoen het.

Malan en nog drie mans, Cornelius Greyling (25), Othard Klingenberg (53) en Ignatius Steynberg (31), word van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla en bly in aanhouding. Hulle moet weer op 19 April in die hof verskyn.

Ooggetuies het aan Netwerk24 vertel hoe die dag van drama verloop het. ’n Man wat veiligheidswerk vir boere doen en plase beveilig, het ook verklarings van ooggetuies bymekaargesit. Hy sê daar was voorheen al probleme in die gebied en dat die grondeienaar geteiken word deur mense wat werk eis. Die man, wat ’n gesin het, wil nie sy naam bekend maak nie omdat boere in die gebied vergelding vrees.

’n Groep van 20 of 25 mans het Vrydagoggend op die plaas opgedaag. Een van die boere het met hulle vergader, maar hy is ten tyde van die vergadering aangerand. Die aanrander is in hegtenis geneem en die polisie is van die voorval in kennis gestel.

Die sogenaamde werksoekers het hierna in die skure ingestorm, waar hulle plaaswerkers begin aanrand het. Hulle het knopkieries, ysterpype en pangas gebruik en gesê die plaaswerkers moet padgee; hulle sal die werk oorneem.

Greyling, een van die plaaseienaars en nou ’n moordbeskuldigde, het teen 11:00 op WhatsApp-groepe hulp ontbied. Boere van die omgewing het hulle gehaas na die plaas, waar daar hewige rusies tussen die aanvallers en boere was.

Teen 11:50 het die situasie vererger en is ’n boodskap uitgestuur waarin versterkings aangevra is. Die eerste skote het kort hierna, teen 11:54, geklap, waarna al hoe meer boere op die noodroep gereageer en hulle na die toneel gehaas het.

Die spanning het teen dié tyd hoog geloop.

Iemand het op WhatsApp gevra dat ’n ambulans ontbied word. Malan is met ’n knopkierie oor die kop geslaan, waarna van die boere die aanvaller in hegtenis geneem het terwyl hulle steeds op die polisie gewag het.

Oomblikke later het een van die Coka-broers glo ’n ysterstaaf gebruik om ’n vierde boer, die man wat in ’n ernstige toestand in die hospitaal is, aan te rand. Die boer is so hard oor sy kop geslaan dat hy ineengestort het.

Die Coka-broer het na bewering die boer se pistool, wat geval het, opgetel en wild en wakker begin skote afvuur. Hy het in die proses vermoedelik sy broer noodlottig getref, waarna ’n boer hom in noodweer doodgeskiet het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.