Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Plaaseienaar wil Cele laat opdok vir ‘versuim’

Die eienaar van ’n plaas naby Pretoria wat sowat R500 000 bestee het om onwettige besetters van sy plaas af te kry dagvaar nou die polisie om dié geld aan hom terug te betaal.

Die Rooimiere verwyder in Augustus verlede jaar onwettige besetters en hul bousels van die plaas van dr. Motodi Maserumule naby Onderstepoort by Pretoria.

Die polisie het glo in Augustus 2018 versuim om teen die besetters op die plaas van dr. Motodi Maserumule naby Onderstepoort in Pretoria op te tree.

Luidens ’n mediaverklaring wat AfriForum uitgereik het, het Maserumule die minister van polisie, Bheki Cele, Dinsdag in samewerking met AfriForum gedagvaar om die koste te betaal van die dringende uitsettingsaansoek wat hy in die hooggeregshof in Pretoria moes kry.

Maserumule het AfriForum destyds genader en die dringende hofbevel bekom, wat gelas het dat die betreders verwyder word, en dat die polisie die balju daarmee moet help. Die polisie het hieraan gehoor gegee, maar glo nie genoeg mannekrag gehad om die uitsetting alleen suksesvol te behartig nie.

Maserumule en AfriForum het gevolglik die Rooimiere gehuur om die betreders en hul strukture te help verwyder.

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid van AfriForum, sê die R500 000 wat hulle nou van die polisie wil verhaal, sluit die regskoste in, asook die koste wat aangegaan is om die Rooimiere te huur wat die besetters moes help verwyder.

Maserumule en AfriForum vra in die dagvaarding ook dat die minister die regskoste van die huidige dagvaarding en prosesse wat daaruit kan voortvloei, betaal. “Indien ons eis slaag, sal dit ’n duur les vir die polisie wees,” sê Kamfer. “Die hele situasie destyds was ’n nagmerrie. Die besetting het ook na ander plase in die omgewing oorgespoel.”

Die Rooimiere besig om die onwettige strukture op die plaas van dr. Motodi Maserumule naby Onderstepoort te verwyder.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê die burgerregteorganisasie raak betrokke by sake soos hierdie “om toe te sien dat die polisie gedwing word om sy werk te doen”.

“Ons hoop hierdie eis sal as ’n afskrikmiddel dien indien die polisie in die toekoms huiwer om sy grondwetlike mandaat uit te voer. Wetstoepassingsowerhede se laksheid mag nie ongesiens verbygaan nie.”

Cele het nou die geleentheid om ’n verweer teen die eis te opper, of nie.

Maserumule was nie Dinsdagmiddag vir kommentaar beskikbaar nie. Cele se woordvoerder het beloof om navraag oor die dagvaarding te doen. Die minister se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.

Meer oor:  Ian Cameron  |  Bheki Cele  |  Dr. Motodi Maserumule  |  Pretoria  |  Landbou  |  Besetters  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.