Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hof: Plaasmoord 'kry nie aandag wat dit moet'

’n Streekhoflanddros van Brits het ’n ondersoek gelas waarin die hoof van die Regshulpraad in Noordwes moet kom verduidelik wat gedoen gaan word sodat ’n plaasmoordverhoor “die aandag kry wat dit moet”.

Dit volg nadat die verhoor teen sewe beskuldigdes Maandag vir die soveelste keer in die byna drie jaar wat dit op die hofrol is, weer om dieselfde redes uitgestel moes word: probleme met (regshulp-)prokureurs en botsende belange weens beskuldigdes se weergawes wat bly verskil.

Caiphus Shilenge (26), Promise Mlambo (26), Trust Mfofiti (20), Joshias Ngwenya (26), Tshepo Mokgobo (26), Thomas Sambana (18) en Felix Mlambo (26) word aangekla van onder meer poging tot moord, moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens. Die sewe is in 2017 gevang ná twee plaasaanvalle in dieselfde omgewing, skaars ’n week uitmekaar uit.

Dries Botha is in Julie 2017 op sy plaas naby Brits aangeval en verskeie kere geskiet. Foto: Verskaf

Luidens die klagstaat is die kruieboer Hennie Eksteen op 29 Junie 2017 geskiet, maar het oorleef. Op 4 Julie is Dries Botha sewe keer op sy plaas in die Kleinfontein-omgewing geskiet terwyl sy vrou, Drieka, in die huis was. Botha is later in die hospitaal dood. 

Die saak is verskeie kere uitgestel omdat die Regshulpraad nuwe regsverteenwoordigers moes aanstel toe die beskuldigdes vinger na mekaar begin wys het.

Toe ontsnap Shilenge en Felix Mlambo in Desember 2018 uit die Hartbeespoort-polisiekantoor se aanhoudingsel. Hulle is later weer aangekeer – nie ver van Botha se plaas nie.

Daarna wou sommige beskuldigdes skuld beken en ander nie.

Uiteindelik kon landdros Sarina Benade in ’n voorverhoor bepaal dat almal gereed was dat die verhoor kan begin. Die saak is in Oktober verlede jaar tot 4, 17 en 20 Februarie vanjaar vir dié doel uitgestel. Op 4 Februarie was net een regsverteenwoordiger egter by die hof.

Die saak is toe tot Maandag uitgestel.

Ike Mkhavele, staatsaanklaer, en sy getuies was slaggereed om te begin.

Adv. Naas de Jager, wat deur die Regshulpraad aangestel is om vier van die beskuldigdes te verteenwoordig, het egter aangekondig dat hy as Shilenge se regsverteenwoordiger weens “botsende belange” onttrek.

“Die beskuldigde bly sy weergawe so verander dat ek voorgestel het hy verdedig homself. Dit (De Jager self) is sy tweede regshulpverteenwoordiger,” het De Jager aangevoer.

Volgens hom sou Shilenge ’n bekentenis aflê, maar het hy nou besluit dat hy nie by die aanvalle betrokke was nie en niks weet nie.

Benade het hierop weer aan die beskuldige sy regte tot regsverteenwoordiging verduidelik en Shilenge het besluit om weer vir ’n regshulpprokureur te vra. Benade het gewaarsku dit sal die laaste keer wees.

Dit neem die Regshulpraad gewoonlik ses weke vir so ’n aanstelling, maar Benade wou weet wie Shilenge sou verteenwoordig voordat die saak Maandag weer uitgestel word.

Wat gaan hy (die Regshulpraad-hoof) doen om toe te sien dat die saak die nodige aandag kry? Ek wil ’n ondersoek hou dat ons hierdie saak op verhoor kan neem.

“Hierdie saak is sedert 2017 op die hofrol. Elke keer kom die getuies hof toe. Hulle het ook ’n reg. So ook die beskuldigdes wat in aanhouding is. Ek kan nie nog ses weke wag nie.

“Elke keer is daar ’n probleem. Elke keer. Dan wil die beskuldigdes skuld erken, dan nie. Dan verander hulle van regsverteenwoordiger. Ons het nou reeds (weer) drie dae verloor,” het Benade gesê.

Hierop het sy aan De Jager gevra wanneer hy bewus geword het van die botsende belange tussen sy kliënte.

Hy het geantwoord: Op 4 Februarie.

“En sedert 4 Februarie het u stilgebly, geen reëlings getref nie? U los dit tot vandag?” het die landdros gesê.

De Jager het verduidelik dat hy ook nie blootlegging van die dossier ontvang het nie, want nie die vorige prokureur of die polisie het vir hom afskrifte van die dossier gegee nie.

Benade het geantwoord dat dit prosedure is om dit by die staatsaanklaer te kry.

Toe gelas die landdros: Die hoof van die provinsie se Regshulpraad moet kom getuig oor die werkinge van daardie kantoor.

“Wat gaan hy (die Regshulpraad-hoof) doen om toe te sien dat die saak die nodige aandag kry? Ek wil ’n ondersoek hou dat ons hierdie saak op verhoor kan neem,” het die landdros beveel.

Die saak is tot later die maand vir dié ondersoek uitgestel.

Meer oor:  Brits  |  Beskuldigdes  |  Uitgestel  |  Landdros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.