Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Plaasmoordenaar se vonnis ‘moet duidelike boodskap wees’

Die boerderygemeenskap moet veilig voel en verseker word dat hulle nie sinneloos vermoor sal word nie, het regter Soma Naidoo in die hooggeregshof in Bloemfontein gesê voordat sy ’n plaasaanvaller effektief vir 35 jaar tronk toe gestuur het.

Sy sê boere moet verseker word dat die howe hulle sal beskerm deur ’n sterk en duidelike boodskap uit te stuur dat dié soort geweld met die swaarste straf wat die wet toelaat, gestraf sal word.

Diau Lawrence Tshabalala Woensdag in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Alzane Narrain

Dit is welbekend dat boere in die land die teikens van wrede aanvalle deur misdadigers is, wat gereeld tot lewensverlies lei.

Sy het Diau Lawrence Tshabalala (37) van Senekal gevonnis nadat hy skuld beken het dat hy ’n bekende boer en sakeman van dié dorp, Mantene Johannes Moloi, op 4 Oktober 2018 op sy hoewe beroof en vermoor het.

Sy vermeende makker, Lionel Cupido (38), verskyn volgende week in die rondgaande hooggeregshof in Bethlehem.

Naidoo sê Moloi was ’n gesinsman en ’n boer.

Dit is duidelik dat hy ’n pynlike en brutale dood gesterf het.

Hy was ongewapen en het geen kans teen Tshabalala en sy makker gestaan nie. Die mate van geweld wat op hom toegepas is, was ook heeltemal onnodig.

Uit die beskrywing van die aanval was dit duidelik dat hy hom nie sou teensit nie en vir hulle sou gegee het wat hulle wou hê.

“Dit is tragies dat hy vir ’n bos sleutels, sy selfoon en R120 kontant vermoor is.”

Luidens Tshabalaa se pleitverduideliking het hy en Cupido eers vir Benette Mphakela in sy woonwa op die hoewe oorrompel en van sy selfoon beroof voordat hulle na Moloi se huis is.

Hulle het hom vasgebind, geskop en met ’n ysterstaaf geslaan. “Ons het voorsien dat hy kon doodgaan, want hy het verskeie houe teen sy kop gekry.”

Hy het nog gelewe toe hulle daar weg is.

Nadat hy die volgende dag in hegtenis geneem is, het Tshabalala ’n bekentenis afgelê en ook aan die polisie uitwysings gedoen.

Naidoo het hom op die twee aanklagte van roof tot 15 jaar tronkstraf elk gevonnis wat hy samelopend sal uitdien. Op die aanklag van moord is hy tot 20 jaar gevonnis.

Adv. Johan Roothman het vir die staat en Leona Smit vir Tshabalala opgetree.

Meer oor:  Senekal  |  Boer  |  Moordverhoor  |  Sakeman  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.