Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Werkers sterf: Piet Retief-mans bly in aanhouding

Vier mans het Maandag te midde van ’n swaar polisieteenwoordigheid in die landdroshof in Piet Retief, Mpumalanga, op aanklag van die moord op twee plaaswerkers verskyn.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê ’n groep betogers, hoofsaaklik inwoners van die Mkhondo-distrik, het by die hof saamgedrom.

Volgens Mdhluli is ’n uitbarsting gevrees omdat die gemoedere hoog loop onder inwoners wat meen wit boere word nie gestraf vir hul beweerde misdrywe teen swart plaaswerkers nie.

Die betogers het gevra dat Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53) en Ignatius Michael Steynberg (31) nie op borgtog vrygelaat word nie.

Luidens die voorlopige klagstaat word hulle van die moord op die broers Amos en Zenzele Coka beskuldig.

Malan staan ook tereg op ’n aanklag van dwarsboming van die gereg omdat hy glo ná die voorval geweier het om sy vuurwapen aan die polisie te oorhandig.

Mdlhluli het gesê al vier word ook aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die voorval het volgens Mdhluli op 9 April in die Dirkieskop-omgewing plaasgevind. Hy was nie bereid om uit te wei oor wat presies gebeur het nie.

“Die saak is sub judice en ons gaan nie daaroor uitwei as dit nog nie in die hof aangehoor is nie,” het Mdhluli gesê.

Hy is gevra oor bewerings dat een van die Coka-broers ’n vuurwapen by die beskuldigdes afgeneem het. Daar was toe glo ’n oor-en-weer-skietery.

Die broers was volgens Mpumalanga Landbou (ML) op die plaas vir ’n onwettige betoging, en nie om werk te soek, soos voorheen deur die polisie gesê is, nie.

Mdhluli het geweier om hierop te reageer.

In ’n verklaring sê ML die plaaseienaar het blykbaar ’n noodoproep uitgestuur om hulp van bure toe die lewe van mense op die plaas bedreig is.

ML beweer daar was ’n “onwettige optog” deur lede van die naburige gemeenskap aan die gang wat tot ’n skermutseling gelei het.

“ ’n Skermutseling het volgens berigte uitgebreek waarin ’n plaaswerker doodgeskiet en ’n optogganger noodlottig gewond is. ’n Boer het skedelbreuk opgedoen, terwyl verskeie ander boere ernstig beseer is,” lui die verklaring.

ML het die geweld en lewensverlies betreur en onderneem om ondersoek in te stel na waarom die polisie nie by die betoging teenwoordig was nie.

’n Vergadering sal ook gehou word met die LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en grond- en omgewingsake om die saak verder te bespreek.

“Ter wille van ’n vreedsame en stabiele omgewing waarin ons boere en hul plaaswerkers kan voortgaan met hul belangrike taak om voedsel te produseer, word die publiek versoek om nie gevolgtrekkings te maak op grond van onbevestigde inligting en om nie onbevestigde nuus te versprei nie,” was ML se pleidooi.

Treasure Thabede, voorsitter van die forum Mkhondo Justice for Economic Development, was Maandag deel van die betoging.

Hy het ’n oproep gedoen dat die hofverrigtinge uitgesaai word “sodat toegesien kan word dat geregtigheid in die Piet Retief-landdroshof geskied”.

Thabede beweer dié hof is partydig vir wit boere omdat hul strafsake gereeld uitgegooi word.

Hy sê in 2013 is ’n ondersoek aangevra en is ’n memorandum met bewyse van sulke sake by die hof ingedien. Teen druktyd kon hy nie dié dokument aan Netwerk24 toon nie.

Vusi Motha, burgemeester van die Mkhondo-munisipaliteit, het ook die geweld teen plaaswerkers veroordeel.

“Die moord deur boere op plaaswerkers moet verwerp word met die minagting wat dit verdien,” het Motha in ’n verklaring gesê.

Hy het die Coka-familie Maandag besoek om sy medelye te betuig. Die familie was te getraumatiseerd om met die media te praat.

Refilwe Mtsweni-Tsipane, Mpumalanga se premier, het ook die voorval veroordeel. “Genoeg is genoeg. Ons is nie te vinde daarvoor dat wit boere hulle so vinnig moet kan mobiliseer in ’n poging om menselewens te neem nie,” het Mtsweni-Tsipane in Piet Retief aan die media gesê.

Volgens haar is daar te veel rassistiese voorvalle soos dié in die Gert Sibande-distrik, en dit moet uitgeroei word.

Intussen is die vier beskuldigdes se saak tot volgende week uitgestel. Hulle sal tot dan in aanhouding bly. Hul familie wou ook nie die media te woord staan nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.