Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Poena-saak: Staat wil appelleer
Retief Liebenberg groet sy dogter, Chevonne, nadat hy verlede jaar vrygespreek is by die Noord-Gautengse hooggeregshof. Foto: Deaan Vivier

Die staat wil appelleer teen die vryspraak van Retief Liebenberg (50), die sakeman wat Poena Visser (19) en dié se pa, Dewald Visser (47), op 31 Oktober 2013 doodgeskiet het.

Regter Mahomed Ismail het Liebenberg, van Benoni, in November 2015 in die Noord-Gautengse hooggeregshof vrygespreek op twee aanklagte van moord nadat hy bevind het Liebenberg was tydelik nie-patologies ontoerekenbaar toe hy die Vissers in sy eie dubbelverdiepinghuis in ’n gholflandgoed doodgeskiet het.

Liebenberg, wat skuld ontken het aan moord, het aangevoer hy was ná ekstreme uitlokking en aanranding deur die Vissers bang. In ’n desperate poging om sy dogter en homself te beskerm, het hy nege skote op die Visser-pa en -seun geskiet.

Liebenberg se dogter, Chevonne (nou 20), het destyds ’n verhouding met Poena gehad.

Chevonne het getuig dat die verhouding versleg het en sy bang was vir Poena.

Hy het haar ook aan dwelms bekendgestel.

Op die dag van die voorval het Poena by haar pa se huis opgedaag. Sy en Poena het gestry.

Liebenberg het die jong man gevra om te loop, waarop Poena sy pa gebel en gedreig het om Chevonne saam met hom te neem. Hy het ook gedreig om ’n berugte uitsmyter van die omgewing te bel.

Die hof het ook gehoor dat Visser sr. Liebenberg by sy aankoms met die vuis geslaan het. Chevonne het flou geword.

Liebenberg het getuig toe hy hurk om Chevonne te help, het die Vissers hom begin aanrand.

Dit was die laaste ding wat hy onthou voordat sy broer hom ná die laaste skoot geskud het.

Visser sr. is vyf keer van voor af geskiet. Poena is vier keer geskiet.

Die staat gaan Ismail eers in ’n aansoek om te mag appelleer teen die vryspraak, moet oortuig dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kan kom. As Ismail die aansoek toestaan, sal die staat se appèl deur ander regters aangehoor word.

Die verlof tot appèlaansoek word na verwagting in Februarie deur Ismail aangehoor.

Meer oor:  Poena Visser  |  Retief Liebenberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.