Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
POF moet opdok nadat vrou se lewensmaat sterf

Die Padongelukkefonds (POF) moet R2,3 miljoen aan onderhoud aan ’n vrou van die Noord-Kaap betaal nadat die man met wie sy ’n saamwoonverhouding gehad het, tussen Bloemfontein en Petrusburg in ’n motorongeluk dood is.

Yvette Kriek. Foto: Facebook / Yvette Kriek

Regter Johann Daffue het beveel die POF moet R1 944 273 aan toekomstige onderhoud aan Yvette Kriek (35) van Black Rocks betaal en R365 370 wat sy sou gekry het as Jaco van Eetveld nie weens noodlottige beserings ná die ongeluk op 28 April 2018 gesterf het nie.

Daffue het ook gelas dat die POF haar regskoste moet betaal vir die eis wat sy ingestel het.

Luidens die uitspraak maak Kriek, ’n ma van twee seuns, nou ’n bestaan deur die restourasie van meubels en huishoudelike ware. In die tyd toe Van Eetveld dood is, het sy in die somermaande by die swembad in Lime Acres gewerk.

Sy het Van Eetveld in 2011 in Lime Acres ontmoet waar hy eers as rekenaartegnikus vir De Beers en later tot sy dood vir Petra Diamonds gewerk het.

Kriek en haar twee seuns uit ’n vorige huwelik het ’n paar maande ná hul ontmoeting by hom ingetrek.

Hulle het as ’n gesin geleef en Van Eetveld het hulle saam met vakansie geneem, vir haar en die seuns selfoonkontrakte uitgeneem wat hy betaal het, en selfs vir die kinders klere gekoop en vir ’n skooltoer van een van die seuns betaal.

Terwyl sy gewerk het, het sy ook ’n geldelike bydrae tot die huishouding gemaak. Die seuns het ook onderhoud van hul pa ontvang.

Die seuns het na Van Eetveld as hul pa verwys en hy het hulle as sy seuns beskou.

Van Eetveld het die plig aanvaar om vir haar te sorg, soos hy byna sewe jaar lank gedoen het.

In Desember 2013 het Van Eetveld vir haar ’n verloofring gekoop. Sy was ook saam met hom, sy ma en susters in Brittanje. Sy ma het vir alles betaal, wat verdere bewys is dat sy as deel van die familie beskou is.

Daffue het bevind hoewel sy en Van Eetveld nie uitdruklike planne gehad het om gou te trou nie, sou hulle as lewensmaats saamgebly het as hy nie gesterf het nie.

Van Eetveld het die plig aanvaar om vir haar te sorg, soos hy byna sewe jaar lank gedoen het.

Adv. Joubert Zietsman het in opdrag van Honey-prokureurs vir Kriek opgetree. Adv. J. Ferreira het in opdrag van Maduba-prokureurs vir die POF opgetree.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Bloemfontein  |  Petrusburg  |  Pof  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.