Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
POF moet R6,6 m. vir seun opdok

Vyf jaar se hartseer is agter die rug. Nou beplan sy vir haar seun se toekoms, sê Louie-Ann Bendeman nadat ’n eis van meer as R6,6 miljoen van die Padongelukkefonds (POF) vir haar seun, Johan Ferreira (22), in die Vrystaatse hooggeregshof toegestaan is.

Johan Ferreira

Dié eens begaafde rugbyspeler van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein het ernstige breinskade opgedoen toe hy en drie ander seuns van dié skool in die vroeë oggendure van Goeie Vrydag 2011 met ’n bakkie teen ’n lamppaal in Eerstelaan in die stad gebots het.

Marli van Straaten (16), destyds ’n leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, het op Johan se skoot gesit en is dood in die ongeluk.

Bendeman sê vir haar was die bevel van regter Corné van Zyl die afsluiting van ’n verhaal van vyf jaar. “Nou weet ek ten minste ek kan my kind versorg.”

Hy kan nou die regte versorging en medikasie kry om hom op die regte pad te hou.

Die POF is ook gelas om alle toekomstige bewese mediese uitgawes van Johan wat uit die ongeluk spruit, te betaal.

Benewens die regskoste, is die POF ook gelas om die koste van die oprigting van ’n trust vir Johan en die administrasiekoste daarvan te betaal.

Die regskoste sluit ook die koste in van sewe deskundige getuies en die koste vir die opstel van hul verslae in.

Die POF is gelas om die R6 635 840 binne 60 dae te betaal.

Luidens die bevel sal die Johan Ferreira-trust opgerig word om Johan se geld tot sy voordeel te bestuur.

Adv. Adrian Vorster het in opdrag van Henry Buchner van Honey-prokureurs namens Johan se curator ad litem, adv. Louis Pohl, SC, opgetree. Menezi Gcasamba het vir die POF opgetree.

* Johan was in gr. 11 toe die botsing gebeur het. Sy skoolloopbaan het daar geëindig. Sy plan was destyds om ’n professionele rugbyspeler te word. Nou kan hy aan geen sport deelneem nie.

* Hy kry nou erge woede-aanvalle en gaan soms tot geweld oor. Hy het ’n persoonlikheidsverandering ondergaan. Hy kan nie meer onafhanklik lewe of sy eie geldsake hanteer nie.

* Stefan Labuschagne en Pieter Nel, ook destyds leerlinge van Sentraal, was agter op die bakkie toe die botsing plaasgevind het. Hulle is ook beseer, maar nie so ernstig soos Johan nie.

* Malcolm Bothma, ook van Sentraal, het die bakkie bestuur. Hy is vroeg in 2014 in die Bloemfonteinse streekhof tot 36 maande korrektiewe toesig en ’n opgeskorte vonnis van drie jaar tronkstraf weens strafbare manslag gevonnis. Hy is tot boetes van altesaam R3 000 of tronkstraf van 12 maande gevonnis omdat hy sonder ’n rybewys en roekeloos bestuur het.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.