Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
POF-skuld kan Eskom s’n oortref

Vergeet vir ’n oomblik van Eskom se skuld: Die Padongelukkefonds (POF), wat uit die brandstofheffing gefinansier word, s’n gaan eersdaags selfs groter wees.

Collins Letsoalo, waarnemende uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds. Foto: Brendan Croft

Die uitvoerende hoof van die POF sê in hofstukke die huidige skuld van R324 miljard gaan binne vyf jaar R800 miljard word volgens aktuarisse se berekeninge.

Eskom se skuld, wat die ekonomie volgens kenners kan knak, beloop tans R454 miljard.

Collins Letsoalo, waarnemende hoof van die POF, sê die fonds se geldlas dwing hom om dadelik van al 84 prokureursfirmas wat namens hom optree, ontslae te raak.

Volgens hom bestee die POF sowat R10 miljard per jaar aan regskoste en hy wil 75% hiervan bespaar deur ’n nuwe model.

Die minister van vervoer het Letsoalo ses maande gelede aangestel om met ’n regrukstrategie vorendag te kom.

Dis dié regrukstrategie wat 45 van die prokureursfirmas nou in ’n dringende saak in die hooggeregshof in Pretoria probeer stuit. Hulle sê die besluit om van hulle ontslae te raak is kortsigtig, gaan die POF selfs méér geld kos en gaan duisende hangende hofsake teen die POF in chaos dompel.

Die POF het dié prokureurs beveel om alle bestaande lêers terug te gee en die POF het ook ’n tender vir nuwe prokureurs gekanselleer. Die hof gaan Vrydag uitspraak lewer of die firmas hul lêers op 1 Junie aan die POF moet teruggee.

In ’n volgende uitspraak laat in April gaan die hof sê of die POF die tender kon kanselleer en of hy dit weer moet instel.

‘Daar sal geen chaos wees nie.’

Letsoalo sê in sy hofstukke die besluit was rasioneel, want die POF wil voortaan sover moontlik uit die howe bly en eise met sy eie personeel skik. Volgens hom lyk dit in dié stadium of die fonds sowat 255 mense gaan moet aanstel – regslui, motorbestuurders en administratiewe personeel – om die regsfirmas se werk te ondervang.

Maar dit laat die POF met ’n volgende probleem: Hy sal volgens sy eie hofstukke moontlik eers wetgewing in die parlement hiervoor gewysig moet kry, wat tyd neem.

Omdat die fonds nou prokureurloos is, het hy die staatsprokureur se kantoor in Pretoria gaan vra om hom te help, wat daarop neerkom dat die staatsprokureur meer prokureurs gaan aanstel om die fonds se sake te hanteer.

Letsoalo sê die fonds moet die lêers van sy prokureurs terugkry om padongelukslagoffers se eise teen hom dadelik te kan afhandel. Dít sal die eisers bevoordeel, veral kinders wat broodwinners verloor het, en bespaar op onnodige regskoste uit die staatskas.

Hy sê die prokureurs se hofsaak is roekeloos en selfsugtig.

Die fonds skuld R19 miljard aan eisers wie se eise reeds afgehandel is. Die fonds “kan nie dié arme eisers nie betaal nie, tóg bestee dit jaarliks R10,6 miljard aan regskoste,” sê Letsoalo.

Dis die fonds se huidige litigasiemodel en die volgepropte hofrolle wat hom in die finansiële krisis gedompel het. Eise word tot vyf jaar uitgerek, wat die eisers benadeel.

Die POF kry gemiddeld R3,52 miljard per maand uit die brandstofheffing. Die onlangse verhoging in die heffing met 9c per liter verhoog die fonds se inkomste net met R125 miljoen per maand, sê Letsoalo.

Die firma Diale Mogashoa Ingelyf, wat een van die hofaansoeke teen die fonds ingedien het, sê weens die fonds se doel en funksies sal dit altyd ’n paneel van prokureurs nodig hê, veral om eise teen die fonds teë te staan.

Die meeste eise kan nie geskik word sonder dat dit hof toe gaan nie. Die fonds kan dié sake nie vanuit sy eie geledere verdedig nie, want sy regsadviseurs is nie praktiserende prokureurs nie.

Diale Mogashoa sê die staatsprokureur kan die fonds nie help nie, weens sy eie ernstige tekorte aan vermoë. Dis ook onseker of die Staatsprokureurswet hom eens sal toelaat om die POF te help.

Die firma FourieFismer sê in nog ’n hofaansoek die POF se stappe sal die hofrolle ontwrig soos nog nooit tevore nie, want die POF is die grootste litigant in die land met honderde sake daagliks. Dié firma sê die POF sal ook onmiddellik ’n geskatte R2,7 miljard moet betaal vir die prokureurs wat hulle lêers moet afsluit en teruggee.

Maar Letsoalo sê weer: “Daar sal geen chaos wees nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.