
Leon en Suretha Brits. Foto: Facebook
Twee van die drie verdagtes in die moord op Leon Brits (41), ’n hotelier en deeltydse boer van Pofadder in die Noord-Kaap, is op waarskuwing vrygelaat.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (37) het Vrydag in die landdroshof in Pofadder verskyn en is op waarskuwing vrygelaat om op 22 Februarie weer in die hof te verskyn.
Jacques van Vuuren (34), die ander beskuldigde, het Maandag in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding nadat die saak vir ’n formele borgtogaansoek tot 11 Desember uitgestel is.
Brits is op 7 Oktober by sy huis in Pofadder oorrompel, vyf keer met ’n mes gesteek en glo met sy bulterriër se ketting verwurg voordat hy in die swembad gegooi is.
Sy vrou, Suretha, het op sy lyk afgekom nadat sy hom gaan soek het toe hy nie haar oproepe beantwoord het nie.
Talle waardevolle artikels was uit die huis vermis.
Die drie verdagtes is ná ’n intensiewe ondersoek deur brig. Dick de Waal, Noord-Kaapse hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad, en ’n span speurders van Pofadder en Springbok vasgetrek.
Williams is glo op ’n bus in Piketberg in hegtenis geneem.
Van Vuuren is op dieselfde dag in Kathu in hegtenis geneem. Bareki is op 23 Oktober aangekeer.
Ramatseba sê die polisieondersoek duur voort.