Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Pofadder: Vrou se aansoek om borgtog uitgestel
Suretha Brits (30) het Woensdag in die streekhof in Pofadder vir 'n formele borgtogaansoek verskyn. Foto: Facebook

Die borgtogaansoek van Suretha Brits (30), vrou van die vermoorde Leon Brits (41), hotelier en deeltydse boer van Pofadder, is Woensdag in die streekhof in Pofadder tot 29 April uitgestel.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die borgtogaansoek sal op 29 en 30 April voortgaan.

Brits sal in aanhouding bly terwyl die polisie se ondersoek voortgaan.

Slegs familie van die Brits-egpaar is Woensdag gedurende die verrigtinge, wat tot ná 16:00 geduur het, in die hof toegelaat.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging, het landdros Fiona Hess die borgtogaansoek uitgestel om die staat en die verdediging die geleentheid te bied om kwessies te ondersoek wat Brits in die borgtogaansoek aangevoer het.

Senokoatsane sê hy kan nie in hierdie stadium die aard van die kwessies aan die media bekendmaak nie.

Brits is verlede Maandag tydens ’n klandestiene operasie deur brig. Dick de Waal, hoof van die polisie se eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad, by haar huis in Marchand in hegtenis geneem.

Leon se lyk is op 7 Oktober deur Suretha in die onderdakswembad van die egpaar se huis in Pofadder gevind nadat sy na hom gaan soek het toe hy nie oproepe beantwoord het nie.

Hy is met steekwonde aan sy bolyf en die hond se ketting om sy nek gevind.

Drie mans, Jacques van Vuuren (37), Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24), is kort ná die moord in hegtenis geneem.

Leon Brits (41) Foto: Facebook

Brits is bykans ses maande ná die moord in hegtenis geneem nadat Van Vuuren in ’n pleitooreenkoms aangevoer het dat Brits hom in September R400 000 aangebied het om die moord te pleeg of iemand te huur om die daad uit te voer.

In die pleitverduideliking het Van Vuuren beskryf hoe die moord beplan en uitgevoer is.

Brits het glo die helfte van die geld vooraf in paaiemente van R70 000 en toe R130 000 betaal.

Die balans sou ná die moord betaal word.

As deel van die beplanning moes die vermeende moordenaars na bewering ook die inhoud van die kluis in die egpaar se huis buit om dit glo na ’n rooftog te laat lyk.

Die inhoud het uit wapens, gepoleerde diamante, Krugerrande en kontant bestaan.

Die wapens, ’n Glock- en Star-pistool en ’n .223-geweer, is volgens Van Vuuren by Williams se huis gelos.

Die beskuldigdes het die kontant na bewering onder hulle verdeel.

Van Vuuren is op 25 Maart in die hooggeregshof in Kimberley tot 25 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort is, vir sy aandeel in die moord gevonnis.

Williams en Bareki sal weer op 17 Mei op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens in die streekhof in Pofadder verskyn.

Adv. Hannes Cloete het aangekla.

Meer oor:  Suretha Brits  |  Pofadder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.