Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisie, DOV moet onskuldige man R750 000 betaal

Die nasionale direkteur van openbare vervolging en die minister van polisie moet aan ’n Vrystaatse man skadevergoeding van R750 000 betaal nadat hy in hegtenis geneem, aangehou en vervolg is, terwyl hy onskuldig was.

Hulle moet ook die regskoste van Mothobi Albert Tlake van Qwaqwa betaal, het regter Abe Mathebula Dinsdag by ooreenkoms tussen Tlake en die staat in die Vrystaatse hooggeregshof gelas.

281 dae in aanhouding

Tlake was altesaam 281 dae in aanhouding voordat hy in 2013 in die hof vrygespreek en vrygelaat is.

Hy het aanvanklik R7 miljoen geëis (R25 000 per dag), maar toe vir die R750 000 met die direkteur en die minister geskik.

Hoewel hy reeds in Januarie 2011 in hegtenis geneem is, is net sy onregmatige aanhouding en verhoor van 8 Mei 2012 tot 7 Februarie 2013 vir sy eis in ag geneem.

Luidens sy eis is hy in Qwaqwa vir beweerde aanranding, gewapende roof en die onwettige rig van ’n vuurwapen in hegtenis geneem en in die polisieselle in Kestell aangehou. Sewe dae later is die aanklagte teen hom laat vaar.

Hy is dadelik weer in hegtenis geneem en na Qwaqwa gebring waar hy van gewapende roof, diefstal, poging tot moord, veediefstal en ander misdade aangekla is, lui sy eis.

Landdros is nie ingelig nie

Dit blyk uit die uitspraak van regter Philip Loubser, wat verlede jaar oor die meriete van die eis beslis het, dat die ondersoekbeampte in Tlake se saak die landdros in sy aansoek om borgtog mislei het.

Die aanklaer wat vir die staat opgetree het, moes dit geweet het, maar het dit nie onder die landdros se aandag gebring nie.

’n Verontskuldigende verklaring wat Tlake voor ’n landdros afgelê het, is deur die ondersoekbeampte as ’n bekentenis voorgehou.

Die ondersoekbeampte het ook beweer hy het ’n sterk saak teen Tlake.

En eintlik was die verklaring die enigste getuienis wat die polisie teen hom gehad het.

Uitkenningsparade

Nie sy vuurwapen of sy selfoon kon met enige van die aanklagte teen hom verbind word nie. Ook nie een van die 22 getuies het hom op ’n uitkenningsparade uitgewys nie.

Die aanklaer het dit alles geweet.

Loubser het bevind as die landdros behoorlik ingelig was, sou hy moontlik borgtog toegestaan het.

Daarom moet die aanklaer die blaam saam met die ondersoekbeampte dra dat Tlake so lank in aanhouding was.

Meer oor:  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.