Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisie kyk weer na 95-jarige se vermeende moordenaar

Nadat daar reeds in Januarie nóg ’n aanklag teen die man bygevoeg is wat na bewering die 95-jarige Hester (Babsie) Cowling vermoor het, blyk dit dat die polisie steeds grawe na nog moontlike inligting in die sake teen hom.

Johannes Cornelius (Hannes) Fourie (47) sou Donderdag in die landdroshof in Pretoria verskyn het vir ’n moontlike oorplasing van die saak na die hooggeregshof.

Die aanklaer het egter in die hof gesê die akte van beskuldiging teen Fourie is nog nie gereed nie, omdat daar nog ondersoekwerk gedoen word.

Die saak is toe vir 14 dae in Fourie, wat in aanhouding is, se afwesigheid uitgestel.

Dit volg nadat howe vroeër ingelig is om, weens die Covid-19-pandemie, sake waar beskuldigdes in aanhouding is en wat net uitgestel gaan word, in die aangehoudene se afwesigheid aan te hoor, maar dit nie vir langer as 14 dae aaneenlopend uit te stel nie.

Fourie is op 5 Desember verlede jaar in hegtenis geneem kort nadat Cowling, van Capitalpark in Pretoria, “deur iemand bekend aan haar” vermoor is.

Sy is vermoedelik in haar huis oorval, met ’n plastieksak oor die kop versmoor en haar bankkaart en kontant geroof.

Fourie het kort daarna in die hof verskyn op aanklagte van moord en huisbraak met die opset om te roof.

Die saak is toe uitgestel na Januarie vir ’n borgtogaansoek.

Dit is toe dat dit aan die lig gekom het dat Fourie glo ’n rits vorige veroordelings het vir meestal huisbraak en diefstal wat strek vanaf 1992 tot 2013.

Daarby is nóg ’n aanklag teen hom gevoeg - diefstal.

Dit blyk dat Fourie vier dae voordat Cowling vermoor is, glo ook ’n vrou wat hom blyplek gebied het, in ’n onverwante voorval besteel het.

Luidens die nuwe aanklag het Fourie op 1 Desember 2019 onder meer ’n skootrekenaar en bougereedskap van meer as R10 000 by ’n mev. Papenfus gesteel.

Nie net het hy by mev. Papenfus loseer nadat hy uit die tronk – vermoedelik op parool vir ’n ander saak – vrygelaat is nie, maar die diefstalslagoffer is glo ook ’n familielid van ’n veroordeelde moordenaar met wie Fourie in die tronk bevriend geraak het.

Nadat die staat hierdie inligting vroeër aan die hof bekend gemaak het, het Fourie sy borgtogaansoek laat vaar.

Meer oor:  Hester (Babsie) Cowling  |  Pretoria  |  Huisbraak  |  Moord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.