Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisie moet boerdery vergoed vir brandskade

Nog ’n boerderyonderneming wat skade gely het weens die brand wat in Augustus 2008 vanaf die polisie se opleidingsinstituut in Thabazimbi, Limpopo, versprei het, gaan nou skadevergoeding kry.

Inniesak-beleggings moet R1 063 662 in die sak kry.

Die onderneming bedryf ’n gemengde boerdery, wat wildboerdery insluit, op verskeie plase in die Rankinspas-distrik wat aan ander mense behoort. Die onderneming huur die plase vir sy bedrywighede.

Inniesak het ’n skikkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse regering en die minister van polisie bereik waarvolgens dié verweerders hom R1 063 662 teen 31 Mei sal betaal.

Die verweerders sal ook Inniesak se regskoste (vir sy skadevergoedingseis in die hooggeregshof in Pretoria) betaal.

Die skikking is Woensdag ’n bevel van dié hof gemaak.

Die hof het in 2013 bevind die staat en die minister van polisie is aanspreeklik vir die brandskade wat plaaseienaars gely het.

Die brand het op 28 Augustus 2008 naby die polisie se skietbaan uitgebreek by dié instituut wat as Verdrag bekend staan. Die polisie was nalatig deurdat die brand versprei het.

Die adjudant-offisier wat in 2008 in beheer was van die instandhouding van toerusting en die maak van brandpaaie op Verdrag was afwesig toe die brand begin het. Hy was op ’n kursus in Kaapstad.

Niemand – laat staan nog ’n gekwalifiseerde persoon – het die brandbestrydingsproses beheer nie. Net die studente en die opleidingsbeamptes was daar, het die hof vroeër bevind.

Die studente is beveel om ses klein brandblussers en ’n paar grotes te gebruik.

’n Brandkenner het getuig sulke blussers behoort juis nie teen veldbrande gebruik te word nie omdat dit die brand aanblaas eerder as om dit te smoor. Water moes gebruik word.

Inniesak sê in hofstukke sy waterpype, heinings, vee en weiding het skade gely. Hy moes onder meer 30,5 km se wildheining en 5 km se veeheining vervang. Weiding van 2 625 ha (vir 76 beeste, 118 bokke en 80 skape) is daarmee heen. ’n Rooibok, ’n koedoe, ’n sebra en twee skape het ook doodgebrand.

Inniesak het R1 481 347 geëis.

* Die hof het onlangs gelas dat R3 784 193,00 betaal word aan Johan Coenraad Weilbach, een van die boere wat skade gely het. Dié bevel het ook gespruit uit ’n skikking met die verweerders.

Meer oor:  Thabazimbi  |  Limpopo  |  Brand  |  Brandskade  |  Plase  |  Vergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.