’n Toppolisielid van Uitenhage wat van die verkragting van ’n agtjarige meisie aangekla word, is deur die polisie afgedank.
Die offisier van ’n hoë rang, wat nie geïdentifiseer mag word alvorens hy in die hof gepleit het nie, se afdanking is Maandagaand deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) bevestig.
Netwerk24 het vroeër berig die offisier is op 27 Augustus aangekeer nadat die slagoffer se ma hom by die Kamesh-polisiekantoor verkla het.
Dit het gevolg nadat die slagoffer se 16-jarige suster na bewering die offisier betrap het waar hy haar jonger suster seksueel aanrand.
Gedurende die offisier se borgtogaansoek in die landdroshof in Uitenhage het dit aan die lig gekom dat die slagoffer beweer sy word sedert 2019 deur die offisier, wat ook ’n goeie familievriend is, gemolesteer.
Die offisier is in September op R5 000 borgtog vrygelaat en vir die volle duur van die verhoor onder huisarres geplaas.
Intussen het Opod die aantygings teen die offisier ondersoek en daarna ’n verslag met aanbevelings aan die polisie oorhandig.
Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, sê die offisier is op 5 Januarie deur die polisie afgedank.
Cola sê geslagsgeweld is een van Opod se topprioriteite. “Daarom is die ondersoek spoedig afgehandel, met aanbevelings dat die offisier afgedank word. Verdere aanbevelings vir vervolging is ook aan die direkteur van openbare vervolging gestuur.”
’n Verhoordatum vir die strafregtelike saak moet nog vasgestel word. Cola sê dit is ook nog onduidelik of die saak in die streek- of hooggeregshof aangehoor sal word.

Foto ter illustrasie: Die landdroshof in Uitenhage. Foto: Son