Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisieman moes klaers glo teen bevelvoerder beskerm
Ao. Ishmael Monye Foto: Mike van Rooyen
Sers. Kobus Nel Foto: Mike van Rooyen

Ernstige bewerings van hoe een polisieman in die polisiekantoor in Parkweg ’n meisie en haar neef, wat ’n aanklag van aanranding wou indien, teen die bevelvoerder van die aanklagkantoor moes beskerm, is in die Bloemfonteinse landdroshof gemaak.

Die twee was glo vreesbevange terwyl ao. Ishmael Monye, die bevelvoerder van die aanklagkantoor dié aand, skreeuend en vingerswaaiend tekere gegaan het.

Dit blyk uit stellings wat adv. Willem Edeling Woensdag voor landdros Phumeza Mcilongo aan Monye gemaak het.

Sers. Kobus Nel (40) staan tereg op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat hy Monye die nag van 29 Januarie verlede jaar uit die kantoor, waar hy die meisie se verklaring afgeneem het, verwyder het.

Monye, wat al 23 jaar in dié aanklagkantoor werk, het getuig Nel het hom gegryp, waar hy op ’n stoel gesit het, opgetel en hom uit die kantoor gegooi. Hy het sy kop so hard gestamp dat hy nou nog hoofpyne kry. Dit was erg geswel.

Edeling het dit aan hom gestel dat ’n dokter sal getuig dat hy nie eens ’n kneusing aan sy kop gehad het nie.

Sy het gekom om ’n klagte in te dien en jy dreig om haar toe te sluit.
Adv. Willem Edeling

Hy het aan hom gestel hy het oor sy eie voete geval toe Nel hom uit die kantoor gestoot het.

Monye het getuig die meisie het die nag kom kla dat haar gewese kêrel haar aangerand het. Hy het vir haar gesê dié kêrel was reeds daar en as hy terugkom, sal hy hulle albei moet toesluit.

Dit is toe dat sy en haar neef hulle tot Nel gewend het.

Edeling: “Sy het gekom om ’n klagte in te dien en jy dreig om haar toe te sluit?”

Monye het getuig hoewel hy nie ’n verklaring van die gewese kêrel gehad het nie, het hy gesê hy gaan albei toesluit.

Edeling het gesê Nel sal getuig hy het die meisie gehelp toe Monye skreeuend daar ingekom het. “Hy het gesien die klaer en haar neef was heeltemal bevrees.”

Monye het getuig hy het net gepraat. Hy het ook nie sy vinger vir Nel geswaai nie.

Hy het verskeie keer getuig hy vat nie opdragte van ’n ondergeskikte (Nel) nie. Dit is ook hoekom hy in die kantoor by Nel op ’n stoel gaan sit het om dit te bewys.

Edeling het dit aan Monye gestel dat Nel besig was om lede van die publiek teen sy teistering te beskerm. Dit is ’n skande.

Die meisie het eindelik die klagte gelos.

Die verhoor word in Mei voortgesit. Edeling tree in opdrag van Herklaas Venter van Lovius Block-prokureurs vir Nel op. Lloyd David kla aan.

  • Nel is in ’n dissiplinêre verhoor skuldig bevind en ontslaan. Hy is intussen weer in diens, maar geskors hangende die uitslag van sy appèl.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.