Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisieman se vermeende moordenaar in Gauteng aangekeer
Konst. Stefano Visagie (28), ’n lid van die polisie se eenheid vir openbare orde op Upington, is Woensdag vroegoggend in sy slaap doodgesteek. Foto: Facebook

Die vermeende moordenaar van ’n polisiebeampte van Upington verskyn Maandag in Keimoes in die Noord-Kaap in die hof nadat hy Donderdag in Gauteng in hegtenis geneem is.

Die 35-jarige Nigeriese burger is in Krugersdorp aangekeer en sal Maandag op ’n aanklag van moord in die hof verskyn.

Dit kom nadat konst. Stefano Visagie, lid van die polisie se eenheid vir openbare orde in Upington, Woensdag omstreeks 05:40 doodgesteek is.

Visagie het by ’n vriend se huis in Lennertville, Keimoes, oorgeslaap en is na bewering minstens een keer in die bors gesteek terwyl hy nog geslaap het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die ondersoekspan het onvermoeid gewerk om die verdagte aan te keer.

Visagie se moord het tot oproer in Keimoes en Rosedale, Upington, gelei waar inwoners opgeruk het en geëis het buitelanders, veral Nigeriese burgers, moet hul gemeenskappe verlaat.

’n Motor wat glo aan die verdagte behoort, is uitgebrand en die huis wat die man gehuur het, is glo ook beskadig.

Inwoners, hoofsaaklik jeugdiges, het Donderdag na die landdroshof in Upington opgeruk en geëis dat mense wat ten tyde van ’n optog Woensdag in hegtenis geneem is, vrygelaat word.

Naidoo sê 23 mense, onder wie agt minderjariges, is tot dusver aangekeer.

Konst. Stefano VisagieFoto: Facebook

Die minderjarige kinders is reeds in hul ouers se sorg vrygelaat en die 15 ander sal op ’n aanklag van openbare geweld in die hof verskyn.

“Die inwoners van Keimoes en Upington het Woensdag begin betoog en geëis dat die verdagte aangekeer word. Noudat die verdagte aangekeer is, word die twee gemeenskappe gevra om verdraagsaam te wees en toe te laat dat die ondersoek sy gang gaan.

“Mense word gewaarsku dat geen vorm van geweld geduld sal word nie,” sê Naidoo.

Stanley Peterson, nasionale Khoisan-leier van die Griekwas, sê die betogings “het niks te doen met vreemdelingehaat nie”.

Volgens hom is 31 mense met die betoging aangekeer.

“Ons soek nie die dwelmhandelaars in ons gemeenskappe nie. Ons het hulle almal, Suid-Afrikaners inkluis, 12 uur kennis gegee dat hulle moet padgee. Ons het genoeg gehad van die mense.

“Die dwelms vernietig ons kinders, jong mense en gemeenskappe en ons het onlangs verskeie erge voorvalle hier gehad. Die moord op konst. Visagie was die laaste strooi. Nou sê die gemeenskap genoeg is genoeg,” sê hy.

Volgens hom wil hulle ook hê dat polisiebeamptes wat “in die sakke van die dwelmbase is”, ondersoek moet word.

“Die gemeenskappe van Upington en Keimoes is geruk en erg geskok oor die moord. Die meeste van die mense wat gevang is, is vriende van die polisieman,” sê Peterson.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hul goeie werk wat tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het.

Inwoners van Upington ruk Donderdag na die plaaslike landdroshof op om te eis dat gemeenskapslede wat die vorige dag aangekeer is, vrygelaat word. Foto: Verskaf

Meer oor:  Stefano Visagie  |  Polisieman  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.