Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisievrou 4 j. tronk toe oor verhouding met bendelid

Alicia Beeming, die polisievrou wat aan regsverydeling skuldig bevind is weens haar geheime liefdesverhouding met ’n berugte bendelid, het haar kop moedeloos laat sak toe sy Donderdag tot vier jaar tronkstraf gevonnis is.

Beeming is in Augustus 2017 aan regsverydeling skuldig bevind omdat sy versuim het om Hans Jordaan, ’n “generaal” van die Upstand Dogs-bende, in hegtenis te neem en om die polisie in kennis te stel waar hy is.

Alicia Beeming is tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Foto: Facebook

Beeming het erken dat sy tussen April 2014 en Maart 2015 as lid van die bende-taakspan deeglik bewus was van Jordaan se bewegings toe hy onder meer vir ’n saak van poging tot moord gesoek is.

Beeming se pligte was juis om bendeverwante sake te ondersoek.

Sy was bewus van watter ondersoeke aan die gang was, die besonderhede van staatsgetuies, en watter strategiese metodes toegepas gaan word om bendeverwante aktiwiteite te bekamp.

Sy was ook op talle vergaderings waar lede van die eenheid hul teikens (onder andere Jordaan) bespreek het, en hoe hulle dié teikens gaan aankeer.

Landdros Onke Myataza het tydens vonnisoplegging gesê kol. Mike Grobler, die voormalige hoof van die bende-taakspan, het verdoemende getuienis ter verswaring gelewer.

Myataza het daarop gewys dat die verdediging nie dié getuienis betwis het nie.

Grobler het getuig Beeming se liefdesverhouding met Jordaan het die bende-eenheid se reputasie geskaad.

Talle hofsake teen die baasbreine van bendes, onder andere Jordaan, moes laat vaar word, die lewe van getuies wat in die getuiebeskermingsprogram opgeneem is, was in gevaar en die eenheid se geloofwaardigheid in die gemeenskap is ’n groot knou toegedien.

Die vonnis maak dit duidelik dat korrupsie nie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens geduld sal word nie.
Lt.genl. Liziwe Ntshinga

“Hans Jordaan het vervolging ontduik as gevolg van haar optrede. Sy slagoffers is van geregtigheid ontneem.

“As ’n polisiebeampte het sy nie die mandaat wat aan haar toevertrou is, uitgevoer nie en sy het die hele regstelsel in duie laat stort.

“Sy het haar kollegas se lewe en die lewe van staatsgetuies in gevaar gestel. Ons weet almal hoe berug bendes in Port Elizabeth is. Hulle vernietig gemeenskappe,” het Myataza gesê.

Die welstand van Beeming se drie kinders en die uitwerking wat dit op hulle sal hê indien sy tronk toe sou gaan, was ’n belangrike faktor om haar straf te bepaal.

Myataza het twee verslae van proefbeamptes onder oë gehad en gesê hy is tevrede dat daar familielede is wat na die kinders kan omsien in Beeming se afwesigheid.

Beeming het grasie van 30 dae gekry om al die reëlings vir haar kinders af te handel voordat sy by die tronk moet aanmeld.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, kommissaris van die polisie in die Oos-Kaap, het die vonnis verwelkom.

“Die vonnis maak dit duidelik dat korrupsie nie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens geduld sal word nie.

“Dit is kommerwekkend dat sommige polisiebeamptes nie aan die gedragskode voldoen nie, en die organisasie en hul kollegas se reputasie skade berokken.”

Meer oor:  Hans Jordaan  |  Alicia Beeming  |  Vonnisoplegging  |  Polisievrou  |  Verhouding  |  Hof  |  Bendelid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.