Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Politieke stryd wat in howe afspeel word ál hoe feller

Die seisoen van politieke hofsake is in volle gang noudat die oudministers Ngoako Ramatlhodi en Siphiwe Nyanda laat blyk het hulle wil hulle by Derek Hanekom in sy lastersaak teen oudpres. Jacob Zuma aansluit.

Oudmin. Derek Hanekom

Zuma het hulle apartheidspioene genoem.

Hanekom het die bul by die horings gepak deur op 5 Augustus in die hooggeregshof in Durban ’n lastereis van R500 000 teen Zuma aanhangig te maak.

Zuma het hom op Twitter ’n “bekende agent van die vyand” genoem.

Ramatlhodi, voormalige minister vir die staatsdiens en administrasie, het die afgelope week aan City Press gesê hy het met Hanekom vergader om dalk by sy siviele saak teen Zuma betrokke te raak. “Dit is waarskynlik makliker as ons dit saam doen.”

Ook Nyanda, wat tussen 2009 en 2010 minister van kommunikasie was, het bevestig hy gaan Zuma weens laster dagvaar.

Hanekom, oudminister van toerisme, pak Zuma Woensdag in Durban oor sy apartheid­spioen-twiet. Hanekom eis R500 000, en sê Zuma het geweet daar is geen bewyse vir sy bewerings nie, en tog het hy geweier om dit van sy Twitter-rekening te verwyder.

Julius Malema, EFF-leier, het vroeër gesê dit was Hanekom wat destyds aan die EFF die lys name gegee het van die ANC-LP’s wat die EFF se mosie van wantroue teen Zuma in die parlement sou ondersteun.

Die lys politieke lastersake is ook die afgelope week ’n hupstoot gegee toe dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse wetgewer, ’n eis van R1 miljoen ingedien het in die hooggeregshof in Bloemfontein teen drie senior ANC-politici nadat hy ’n rassis, ’n nar, ’n politieke redneck en ’n “DA-chihuahua” genoem is.

Jankielsohn dagvaar Thabo Meeko, ’n lid van die wetgewer en ANC-woordvoerder in die provinsie, Reagan Booysen, sekretaris van die ANC-jeugliga, Sello Pietersen, jeugligawoordvoerder in die Vrystaat, en die ANC-jeugliga vir laster.

Jankielsohn het Donderdag getuig dis vir hom “vernederend” om as ’n rassis uitgekryt te word.

Netwerk24 berig die dagvaarding is na aanleiding van ’n verklaring van Booysen en Pietersen op 5 Oktober 2017 nadat Jankielsohn kritiek gelewer het op ’n eredoktorsgraad wat die Bahcesehir-universiteit in Turkye aan die destydse Vrystaatse premier Ace Magashule toegeken het. Meeko het glo toe die verklaring waarin die aanmerkings oor Jankielsohn gemaak is, op Facebook gedeel.

Uitspraak word binne drie weke verwag.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank

Ander sake sluit in:

* In die lastersaak van oudmin. Trevor Manuel is Malema, die EFF en dié party se woordvoerder reeds in Mei deur regter Elias Matojane gelas om altesaam R500 000 op te dok.

Die EFF het beweer Manuel het onbehoorlik ingemeng by die aanstelling van Edward Kieswetter as die nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die EFF appelleer.

* Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se lastersaak teen Malema en Floyd Shivambu, EFF-adjunkleier, word na verwagting in Oktober aangehoor. Gordhan het in November klagte van crimen injuria en naamskending aanhangig gemaak op grond van uitlatings wat hulle gemaak het toe Gordhan voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig het. Hy eis ’n verskoning van Malema en Shivambu en vergoeding van R150 000.

* In nóg ’n lastersaak word een van Zuma se getrouste ondersteuners, Andile Lungisa, deur Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, gedagvaar, ook vir R500 000.

Lungisa, ’n raadslid in die Nelson Mandelabaai-metropool, het Kganyago in ’n twiet ’n “kneg van rassiste” en “uitstaande k****r” genoem.

Lungisa appelleer tans teen sy tronkstraf van twee jaar nadat hy Rano Kayser, DA-raadslid en die voormalige burgemeesterskomiteelid, in Oktober 2016 op ’n chaotiese raadsvergadering van die metro met ’n glasbeker oor die kop geslaan het.

Rapport verneem Kayser gaan binnekort ook ’n siviele eis teen Lungisa aanhangig maak. Bykomende beriggewing deur Mandisa Nyathi en Junior Khumalo

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.