Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Poppie: Kobus, Louisa moes dood kon voorsien het
Louisa Koekemoer praat met haar ma, Helena Susanna Bothma, nadat sy skuldig bevind is. Foto: Deaan Viver

Die driejarige Poppie van der Merwe en ’n vyfjarige seun is vir ’n tydperk van agt maande aangerand en mishandel.

Regter Bert Bam het geen twyfel gehad nie: Kobus, sowel as Louisa Koekemoer moes, weens die aard van die beserings aan die kinders, voorsien het dat dié optrede tot ’n dood kon lei.

Hy het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria Poppie se ma en stiefpa skuldig bevind op die aanklag van moord op Poppie en twee aanklagte van kindermishandeling.

“As dit nie albei was wat die beserings toegedien het tydens hulle verblyf in Orania en Brits nie, het die ander party daarvan geweet,” het Bam bevind.

Kobus Koekemoer verlaat die hooggeregshof nadat hy skuldig bevind is. Foto: Deaan Vivier

Poppie is op 25 Oktober 2016 dood weens ’n stompgeweld-besering teen die kop. Sy het enkele ure voor haar dood haar kop gestamp – hetsy deur Louisa se toedoen toe sy haar uit die kamer gegooi het omdat sy die bed bevuil het, en die kind toe in die bad gegly het, of deur Kobus wat haar kop in die toilet gedruk het en dit gespoel het en haar kop gestamp is.

Bam sê hoewel daar baie omstandigheidsgetuienis was, moet dit as ’n “mosaïek” gesien word.

Getuies het getuig van beserings wat oor ’n tydperk van agt maande waargeneem is, terwyl die Koekemoers in Orania gebly het. Dit is egter bevestig deur die direkte getuienis van die buurman, Jaco Roux.

“Sedert Februarie 2016 is die kinders fisiek en verbaal mishandel onder die dekmantel van dissipline. In April 2016 het ’n dokter opgemerk dat Poppie se gedrag verander het en dat sy beserings het.

Hulle faal Poppie

Regter Bert Bam het tydens sy uitspraak sy skok uitgespreek oor hoe die situasie in Orania, toe dit duidelik geword het dat Poppie en die seun mishandel word, hanteer is.

“Ten spyte van verskeie rapporterings van aanranding en mishandeling op die kinders sedert die begin van 2016, het die situasie nie die nodige aandag gekry nie. Ek is verbaas dat dokters, onderwysers, dominees, maatskaplike werkers vir onbekende redes gefaal het om stappe te neem om die kinders te beskerm en nou net die blaam na mekaar verskuif”.

Anneri du Plessis van die Go Purple Foundation, ’n niewinsgewende organisasie wat slagoffers van geweld en verkragting ondersteun, het ná die uitspraak gesê daar is “baie Poppies daar buite” wat deur die stelsel gefaal word.

“Mense kan nie net stilbly nie. Hierdie kind (Poppie) is brutaal vermoor. Groot mense het foto’s van haar beserings geneem, foto’s van dit gesien, maar niks het gebeur nie.

“Wanneer gaan ’n maatskaplike werker, ’n polisielid saam met beskuldigdes soos Louisa en Kobus in die beskuldigdebank staan en as medepligtiges aangekla word omdat hulle niks gedoen het nie?”

“In die tyd het die buurman gesien hoe die driejarige meisie eendag hink en haar arm vashou. Hy het snags gehoor hoe die kinders huil en skree.

“In Junie, in die wintermaand, het hy gesien hoe Beskuldigde 1 (Kobus) die kinders met ’n tuinslang natspuit en op hulle in kru taal skree. Die kinders is toe so vir ongeveer 20 minute buite gelos.

“In Julie/Augustus is Poppie se been gebreek. In Augustus het die kleuter nog beserings gehad.

“Die nadoodse ondersoek het getoon dat die aanrandings ongelooflik toegeneem het nadat die beskuldigdes Orania met die kinders verlaat het,” sê die regter.

Bam het bevind dat Kobus se weergawe dat hy die kinders net gedissiplineer het as hulle byvoorbeeld nie hul kos wou eet nie, “onrealisties” is en “ ’n swak poging om sy optrede te regverdig”.

Oor Louisa sê hy: “Haar emosionele uitbarsting en trane tydens haar getuienis het my nie beïndruk nie. Haar weergawe dat sy niks gedoen het nie, omdat sy Beskuldigde 1 gevrees het, val weg nadat die staat uitgewys het hoeveel geleenthede daar vir haar was om stappe te doen teen haar man of die kinders na ’n veilige plek te neem”.

Volgens Bam het albei beskuldigdes die plig gehad om die kinders te beskerm, tog het albei aangevoer dat die ander party die kinders aangerand het, wat aandui dat elkeen geweet het dat die ander een dit doen.

“Beide was teenwoordig toe die noodlottige besering (aan Poppie) toegedien is. Beide moes die ander een gekeer het om die kinders te beseer. Daar is geen bewys dat een beskuldigde die kinders teen die ander beskuldigde beskerm het nie”.

Nadat hy die Koekemoer-egpaar skuldig bevind het, is die saak tot Februarie uitgestel vir vonnisverrigtinge.

Louisa se betraande ma, Helena Bothma, het ná die tyd gesê: “Ek glo nie my dogter sal haar kind vermoor nie. Ons sal maar hoop en bid vir die saak vorentoe. Dit is al wat ek wil sê, asseblief. Ek voel nie lekker nie”.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.