Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘PPE-bedrog’: Masuku en ondersoekers vandag hof toe

Die afgedankte LUR vir gesondheid in Gauteng gaan die hooggeregshof in Pretoria vandag vra om bevindings wat hom in tenderonreëlmatighede impliseer, tersyde te stel.

Dr. Bandile Masuku voer aan die “verdoemende” bevindings deur die staat se spesiale ondersoekeenheid (SOE) het hom nie net sy werk gekos nie, maar is ook ’n klad op sy integriteit en reputasie as mediese spesialis en staatsamptenaar.

Die SOE het in 2020 grootskaalse bedrog en korrupsie in die Gautengse departement van gesondheid se Covid-19-verkrygingsprosesse ondersoek.

Netwerk24 het breedvoerig berig dat kontrakte ter waarde van nagenoeg R2 miljard toegeken is aan diensverskaffers met botsende staatsbelange.

Die SOE het toe aanbeveel dat David Makhura, premier van Gauteng, teen Masuku optree, ten einde te bepaal of hy geskik is vir sy pos as LUR.

Makhura het Masuku in Oktober afgedank.

Dr. Bandile Masuku is onthef van sy pligte as Gautengse LUR vir gesondheid. Foto: Argief

Die SOE het bevind Masuku het sy plig kragtens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur versuim.

Dit beteken hy het na bewering nie behoorlik toesig oor sy departement gehou toe persoonlike beskermde toerusting (PPE) aangekoop is nie.

In ’n brief op 1 Oktober skryf die SOE dat Masuku die besluit gesteun het om alle aankope van PPE en ander toerusting om Covid-19 te bestry, te sentraliseer.

Die gevolg was dat die plaaslike gesondheidsdepartement namens ander staatsdepartemente in die provinsie PPE moes aankoop.

Die SOE het in die brief aangevoer dat hierdie “irrasionele ” besluit “dalk vir misdadige doeleindes kon wees” sodat Masuku, sy vrou en hul vriende finansiële voordeel kon trek.

Masuku ontken die aantygings. Hy wil nou die hof oortuig om die SOE se bevindings “onwettig, ongrondwetlik en ongeldig” te verklaar, omdat hy glo die eenheid het nie die korrekte en deursigtige ondersoekprosesse gevolg om tot die gevolgtrekkings teenoor hom te kom nie.

Mojalefa Motalane, sy prokureur, skryf in ’n verklaring die SOE kon nie bewys dat Masuku verkeerd opgetree het nie.

Die SOE staan die hersieningsaansoek teen. Die eenheid gaan vandag betoog dat Masuku wél bewus was van die beweerde korrupsie en wanadministrasie onder sy neus.

“Die kritieke bewyse van sy persoonlike en familievriende se betrokkenheid is onder sy aandag gebring,” lui die SOE se betooghoofde.

Wat regskoste betref, sal die SOE op regspraak deur die appèlhof staatmaak wat voorheen gelas het dat staatsamptenare persoonlik aanspreeklik is vir koste waar hulle in hul optrede grondwetlike norme “blatant geminag het” en die “slagoffer” in litigasie gespeel het.

Die SOE sal aanvoer die appèlhof was deeglik bewus van die feit dat regskoste op belastingbetalers sal neerkom as hy nié ’n persoonlike kostebevel teen die sodanige staatsamptenaar lewer nie.

’n Volbank regters sal die aansoek aanhoor.

Meer oor:  Soe  |  Dr. Bandile Masuku  |  Pretoria  |  Hooggeregshof  |  Ppe  |  Covid-Bedrog  |  Tenderbedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.