SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Precious: Verdagte wil nie borgtog hê
Aubrey Manaka
Aubrey Manaka (28), die vermeende moordenaar van Precious Ramabulana (21) Maandag in die landdroshof in Morebeng, Limpopo.Foto: Rudzani Tshikororo

Die vermeende moordenaar van Precious Ramabulana (21), ’n student van Limpopo, wat verlede week met ’n mes doodgesteek is, wil nie om borgtog aansoek doen nie.

Aubrey Manaka (28) het Maandag vlugtig in die landdroshof in Morebeng in die Botlokwa-gebied op aanklag van moord verskyn.

Hy het in die hof aangedui hy wil aansoek doen om regshulp, maar hy wil nie nou om borgtog aansoek doen nie.

Manaka het in ’n liggrys sweetpakbroek en -baadjie in die beskuldigdebank verskyn. Hy het die kappie van die sweetpakbaadjie oor sy kop getrek.

Hy is verlede Donderdag by sy ouerhuis in die Nyakeleng-nedersetting in Botlokwa, sowat 40 km noord van Polokwane, in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê daar is op ’n bebloede mes en bloedbesmeerde klere by Manaka beslag gelê.

Precious Ramabulana was ’n student aan die Capricorn TVET-kollege. Foto: Verskaf

Die polisie het ook ’n selfoon, wat glo aan Ramabulana behoort het, in Manaka se ouerhuis gekry.

Sowat 200 lede van die gemeenskap het buite die landdroshof saamgedrom om te sien hoe Manaka lyk.

Ramabulana is vroeg verlede Sondagoggend meer as 50 keer met ’n mes gesteek in ’n kamer wat sy in ’n huis gehuur het, nie vêr van die Ramakgopha-kampus van die Capricorn TVET-kollege nie.

Sy was ’n finalejaarstudent in sakebestuur en sou die dag ná haar moord haar laaste eksamenvraestel geskryf het.

Pres. Cyril Ramaphosa het Ramabulana se familie, Sondag in Nzhelele, buite Louis Trichardt, besoek.

Ramabulana se ma is uiters getraumatiseerd ná die moord op haar dogter.

Die gemeenskap wil met die Precious Ramabulana-trustfonds begin om haar familie, wat behoeftig is, te help. Ramaphosa sê hy sal dié fonds steun.

Ramaphosa het aan die SAUK gesê mans wat skuldig bevind word aan moord op vroue en kinders moet die swaarste moontlike vonnisse uitdien.

Ramabulana is Vrydagmiddag in Nzhelele-begrawe.

Manaka sal Kersfees en Nuwejaar agter tralies wees en moet op 30 Januarie weer in die landdroshof in Morebeng verskyn.

Meer oor:  Aubrey Manaka  |  Precious Ramabulana  |  Morebeng  |  Mesdood  |  Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.