Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Premier moet opdok nadat betogers direkteur aanrand

Die premier van Mpumalanga moet opdok vir die skade wat sy gewese hoofdirekteur vir beleid en navorsing gely het toe sy gedurende ’n betoging aangerand en so getraumatiseer is dat sy twee maande later haar werk bedank het, het ’n volbank van die appèlhof in Bloemfontein beslis.

Die hooggeregshof in Mbombela moet nou beslis hoeveel van die eis van R7,5 miljoen die premier aan Catherine Churchill moet betaal nadat lede van die vakbond Nehawu haar in haar werkplek aangerand het.

Die eis gaan grotendeels oor haar verlies aan inkomste ná haar bedanking tot haar aftree-ouderdom omdat sy nie weer sal kan werk nie.

Haar appèl teen ’n bevinding van die hooggeregshof dat sy eintlik van die Vergoedingskommissaris vir beserings aan diens moes geëis het, het met koste geslaag.

Sy voer aan die premier het nie voldoende maatreëls getref om werknemers se veiligheid te verseker nie.

Die voorval hou nie verband met haar pligte nie en was die gevolg van misplaaste woede teenoor haar weens ’n misverstand.

Appèlregter Malcolm Wallis het Donderdag in sy uitspraak, waarmee die ander vier appèlregters saamgestem het, gesê die enigste verband tussen die voorval en Churchill se werk, was dat sy in haar werkplek was.

“Die voorval hou nie verband met haar pligte nie en was die gevolg van misplaaste woede teenoor haar weens ’n misverstand.”

Uit die uitspraak blyk dit terwyl van die betogers op 5 April 2017 in die gebou was, het Churchill by haar kantoor aangekom en agtergekom die deur is gesluit. Uit frustrasie het sy gevloek. Een van die betogers het gevra wie gee haar die reg om hulle te vloek.

Van die betogers het haar agter die deur van ’n ander kantoor, waar sy geskuil en haar man gebel het, uitgehaal. Hulle het haar opgetel en bokant hul koppe twee stelle trappe opgedra na die boonste verdieping.

Sy het sonder sukses gepleit dat hulle haar moes neersit. Sy het gehoor iemand noem haar “ ’n stuk wit k*k”.

Sy is tussen ’n skare betogers neergesit en haar skoene is afgevat. Mense in die skare het haar geslaan en rondgestoot.

Die jillende skare het op haar geskreeu “voertsek” en “loop” en haar uit die gebou gejaag. Een van haar skoene is na haar gegooi. Sy moes toe kaalvoet haar weg uit die gebou vind, waar haar man buite vir haar gewag het.

Hy het alles gehoor, want haar selfoon was aan. Die gebeure het sowat 45 minute geduur, blyk uit die uitspraak.

Sy het probeer om weer te gaan werk, maar sê sy kon die situasie nie meer hanteer nie en het aan die einde van Junie 2017 bedank.

Wallis het gesê Churchill is nie aangerand oor die posisie wat sy beklee het of enigiets wat sy gedoen het terwyl sy haar pligte uitgevoer het nie.

Sy is aangerand omdat een mens verkeerdelik gedink het sy het hom gevloek en haar toe saam met ander aangerand en verneder het.

“Na my mening het haar beserings nie uit haar werk voortgespruit nie,” het Wallis gesê.

Meer oor:  Nehawu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.