Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘President het niks om weg te steek’

Pres. Cyril Ramaphosa het niks om weg te steek nie.

So sê sy woordvoerder, Khusela Diko, nadat die openbare beskermer (OB) Woensdag dokumente rakende die sogenaamde Bosasa-verslag by die hof ingedien het.

Die dokumente is ter stawing van Busisiwe Mkhwebane, die OB, se verdoemende bevindinge teen Ramaphosa in haar Bosasa-verslag.

Die dokumente word nie openbaar gemaak nie totdat die adjunk-regter-president besluit het of dit op versoek van die president verseël moet word.

Sy besluit sal glo bepaal word deur of Mkhwebane die dokumente wettig bekom het of nie.

Busisiwe Mkhwebane
Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Felix Dlangamandla

Die OB hou vol die dokumente is wettig bekom.

Die dokumente bevat onder meer bankstate van Ramaphosa se CR17-rekening wat sy veldtog gefinansier het om president van die ANC te word.

Mkhwebane het in haar verslag bevind Ramaphosa het die parlement opsetlik mislei oor ’n R500 000-skenking van Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, aan Ramaphosa se veldtog.

Mkhwebane het in haar regstellende optrede aanbeveel dat Ramaphosa voor die parlement verskyn en dat sy CR17-veldtog vir moontlike geldwassery ondersoek word.

Die hof het Maandag ’n tussentydse bevel toegestaan wat Mkhwebane se regstellende optrede keer tot Ramaphosa se hersieningsaansoek om die verslag te laat tersyde stel, afgehandel is.

Ramaphosa se prokureurs het verlede week in ’n brief aan die hof gevra dat die dokumente geseël word omdat hulle aanvoer Mkhwebane het dit dalk onwettig bekom. Boonop bevat dit “vertroulike inligting van derde partye”.

Die Sunday Independent het Sondag onder meer berig oor politici wat uit die rekening betaal is vir die rol wat hulle in die veldtog gespeel het.

Volgens Diko laat Ramaphosa die reg sy gang gaan.

“Die president het niks om weg te steek nie. As die dokumente onwettig bekom is, wil ons nie hê dit moet in die openbaar versprei word nie. Die hof moet besluit of die publiek toegang daartoe mag kry,” sê Diko.

Adjunkregterpresident Aubrey Ledwaba se kantoor het Woensdag Ramaphosa en Mkhwebane se regspanne per e-pos na ’n vergadering Donderdag genooi om die kwessie te bespreek.

Die president het niks om weg te steek nie. As die dokumente onwettig bekom is, wil ons nie hê dit moet in die openbaar versprei word nie.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, sê dit is egter onseker of die vergadering gaan plaasvind omdat Mkhwebane se regspan reeds ander verpligtinge het.

“Mkhwebane het voorheen aangedui sy hou nie van die insinuasie dat sy die dokumente onwettig bekom het nie,” sê Segalwe.

Volgens hom het Mkhwebane die dokumente wettig gekry van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC), wat owerhede onder meer met finansiële ongerymdhede help.

Daar is ’n memorandum van verstandhouding tussen die OB en die FIC, sê Segalwe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.