Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Pretoria-Wes sal brand as sakeman borgtog kry’
Verskeie mense het hemde met Kabelo Matlata, een van die slagoffers en vermoedelik die groepswoordvoerder van die mans wat vroeër Mohamad Sajid Khan se perseel beset het.

’n Sakeman wat glo twee besetters doodgeskiet toe hulle blykbaar nog een van sy persele onregmatig oorgeneem het, het Dinsdag nie net vir borgtog geveg nie, maar ook teen “burgerlike organisasies” wat gedreig het om hom dood te maak en die hele Pretoria-Wes af te brand indien hy wel vrygelaat word.

Mohamad Sajid Khan (43) van Laudium, Pretoria, voer aan dat hy op 1 Februarie vir Kabelo Matlata en Avela Mbengu uit selfverdediging doodgeskiet het toe hulle een van sy eiendomme wou beset. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord en een van poging tot moord.

Luidens sy borgtogverklaring het hy nie net die polisie tydens die voorval gebel nie, maar ook ná die voorval die skietery aangemeld en homself toe om Maandag 3 Februarie gaan oorgee. Khan is sedertdien in aanhouding.

Die voorval het ’n kruitvat van emosies onder inwoners van Laudium en Pretoria-Wes ontketen.

Khan-ondersteuners noem die voorval die begin van “eiendomskaping” en “die eerste treë van eiendomsbesetting”.

Die burgerlike organisasies het buite die hof dit “ ’n aanslag op Suid-Afrikaners deur misdadige buitelanders” genoem.

In die hof moes Khan se regsverteenwoordiger, adv. Piet Pistorius SC, in ’n stadium vra dat die mense stilgemaak word toe opmerkings en snikgeluide sy betoog in die landdroshof in Pretoria verswelg het.

Die hofsaal en -gang het gewemel van polisielede en veiligheidsbeamptes, lede van die Pakistani- en Moslem-gemeenskap wat Khan ondersteun, sowel as lede van burgerlike organisasies wat eis dat die beskuldigde in die tronk bly.

Luidens Khan se verklaring is hy in Pakistan gebore, maar sedert 2001 ’n wettige Suid-Afrikaanse burger. Dit is ook deur die departement van binnelandse sake bevestig. Hy is in 2003 met ’n Suid-Afrikaanse vrou getroud en het vyf minderjarige kinders van wie een in ’n skool vir leerlinge met spesiale behoeftes is.

Hy het verskeie eiendomme en sakeondernemings, insluitend ’n hoenderboerdery. Daarby verhuur Khan verskeie eiendomme in die Pretoria-Wes-omgewing. Dit is alles afbetaal en hy het titelaktes vir elke eiendom.

“Vier van hierdie eiendomme is rééds onwettig deur groepe mense oorgeneem. Dié mense noem hulself die Concerned Tshwane Residents Group. Hulle identifiseer eiendom, beweer dit is gesteel en verjaag dan die regmatige huurders. Hulle neem dan besit van die eiendomme en maak of dit hul eie is,” verduidelik Khan.

Die keerpunt

Op Saterdag 1 Februarie het een van die huurders hom genader. Volgens Khan het die huurder gesê daar is ’n groep aggressiewe mense op die eiendom wat eis om met die eienaar (Khan) te praat. Die foon is toe aan een van dié mense gegee.

“Die persoon het my beveel om onmiddellik soontoe te kom. Ek het gesê ek kan nie nou nie. Hy het gevra of ek weet wat die woord ‘nou’ beteken,” voer Khan aan.

Hy en ’n vriend is toe soontoe, merendeels omdat die huurder hom versoek het om te kom help. Met sy aankoms was daar ongeveer 15 mans. Die groep het hulself nie geïdentifiseer nie.

Gemeenskapslede en vriende van die oorledenes buite die hof waar hulle betoog teen Mohamad Sajid Khan se vrylating op borgtog.

Die man wat opgetree het as die groepswoordvoerder het na bewering daarop aangedring dat Khan daar en dan sy “papiere vir die huis” wys indien hy regtig die eienaar is. Hy het glo ook gesê Khan het die eiendom gesteel.

“Ek het voorgestel dat ons Maandag by die polisiekantoor ontmoet waar ek dan die titelakte sal verskaf. Die groep het nie daarin belang gestel nie en volgehou dat ek die dokumente daar toon,” lui die beskuldigde se verklaring.

Tydens die stryery het hy sy vriend gevra om 10111 te bel. Die polisie het ’n verwysingsnommer gestuur om te wys dat die klag ontvang is.

‘Jy weet nie hoeveel mense ek doodgemaak het nie’

“Die groepswoordvoerder het ook gesê hy glo my nie dat ek ’n Suid-Afrikaanse burger is nie. Hy het gesê die huise in Pretoria-Wes val onder ’n 99-jaar-huurkontrak en dat buitelanders soos ek die eiendom op ’n onwettige wyse bekom,” sê Khan.

In ’n stadium het die gesprek so vurig geraak dat die groep se “woordvoerder” glo vir die oud-Pakistani gesê het: “Jy ken my nie en weet nie hoeveel mense ek doodgemaak het nie.”

Die groep het toe glo die hek probeer oopdwing en iemand het ’n vuurwapen op Khan gerig. Hy het sy gelisensieerde vuurwapen uitgehaal om te wys dat hy ook gewapen is.

Van die mans het hom glo gegryp. Volgens die beskuldigde het hy verskeie skote afgevuur. Twee mense is dood en die res van die groep het gevlug.

“Ek is dadelik na die Pretoria-Wes-polisiekantoor. Hulle het ook bevestig dat my 10111-oproep daar geregistreer is.”

Khan is daarna huis toe. Die volgende dag (die Sondag) het Pistorius die polisie ingelig dat Khan hom die Maandag sou oorgee.

Die staat se weergawe

Luidens ’n verklaring van die ondersoekbeampte het die polisie 11 patroondoppies, almal uit Khan se vuurwapen, op die toneel gevind.

Gemeenskapslede verlaat die hofsaal nadat die borgtogaansoek uitgestel is.

Daar was geen bewyse van enige ander vuurwapens op die toneel nie.

Die gemeenskapsgroepe is egter woedend en het ’n memorandum aan die polisie oorhandig. Hierin dreig hulle om eie reg te gebruik as Khan op borgtog vrygelaat word. Die gemeenskapsgroepe voer aan dat die twee slagoffers “wreed vermoor is terwyl hulle opgestaan het vir Suid-Afrikaners se stryd”.

Hulle wil ook weet hoe Khan sy burgerskap en eiendom bekom het.

Betoë

Adv. Pistorius het betoog dat Khan homself, sy eiendom en sy huurders wou beskerm.

“Hy is al 19 jaar ’n Suid-Afrikaanse burger en dra by tot die land, hy verskaf ondernemings en blyplek. Die feite in die saak kan nie met emosionele persepsies vervang word nie. Watter regsgrond het die Concerned Tshwane Residents Group om die beskuldigde te konfronteer? Daar is reeds (deur ’n ander applikant) ’n tussentydse interdik teen die (einste) groep bekom," het Pistorius aangevoer.

“Wat kommerwekkend is, is dat hierdie groep geregtigheid eis en dan met openbare wanorde dreig sou die beskuldigde borgtog kry. Hulle wil die hof as gyselaar hou."

Hy het verwys na die groep se memorandum en gesê dit is vol “oningeligte emosies en xenofobie (vreemdelingehaat)”.

Kagiso Rancho, aanklaer, het in sy betoog die hof daaraan herinner dat Khan van drie ernstige misdade aangekla word.

“Lewens is geneem. Daar was 11 patroondoppies op die toneel. Dit beteken koeëls het links en regs gevlieg. Die beskuldigde beweer dat die groep aggressief was, maar hy gaan terug na die perseel. Hy ry nie na die polisie toe nie. Die groep skiet ook nie een skoot nie, nie eens toe die beskuldigde skiet nie," het Rancho betoog.

“Indien die beskuldigde borgtog kry, sal dit ’n gevoel van spanning en skok in die gemeenskap veroorsaak en die verkeerde boodskap uitstuur. Die spanning (in die gemeenskap) is by kookpunt."

* Uitspraak word later die maand gelewer.

Meer oor:  Besetters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.