Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Priester glo vermoor oor ‘baie kontant’

Die staat het vandeesweek sy eerste getuies begin roep in die verhoor van drie mans wat aangekla word van die moord op ’n Rooms-Katolieke priester.

Vader Jeff Hollanders is in Januarie 2020 in sy huis in die Bodibe-nedersetting naby Lichtenburg in Noordwes vermoor. Die moord het inwoners daar woedend gehad omdat die 82-jarige Belgiese geestelike hulle jare lank onbaatsugtig gedien het.

Thabang Maseko (24), Mongezi Molefe (27) en Nicholus Tlhapi (26) het die bejaarde man na bewering op 13 Januarie 2020 in sy huis oorval, aangerand en doodgewurg. Hulle het hom toe beroof. Henry Mamothame, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê een van die staat se getuies het Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabato getuig hy het kort daarna op die lyk afgekom.

Vader Pieter Peeraer (links) en vader Jeff Hollanders was sedert hul jong dae boesemvriende.

“Die getuie is na die priester se huis om ’n CV te gaan haal waarmee die priester sy suster gehelp het,” sê Mamothame. “Toe hy daar kom en klop, het niemand geantwoord nie. Die deur was nie gesluit nie en die getuie is by die huis in. Dit was omgedolwe en geplunder. Hy het die priester in een van die vertrekke dood aangetref. Sy hande was met ’n tou vasgebind en sy voete met kleefband.”

Van Hollanders se gesteelde besittings is later by die beskuldigdes gevind, sê Mamothame.

Nog ’n staatsgetuie het getuig Maseko het hom en vyf ander mense voor die rooftog en moord genader om betrokke te wees by ’n rooftog by die kerk omdat hy glo sou gesien het die priester het baie kontant. Volgens die getuie was Maseko dikwels by Hollanders en bekend met sy woonplek.

Die drie beskuldigdes ontken skuld. Hulle is in aanhouding.

Vader Pieter Peeraer (83), Hollanders se beste vriend, het vroeër gesê hy hoop wie ook al Hollanders vermoor het, sal swaar gestraf word. “Ek is teen die doodstraf gekant, maar hoop die skuldiges sal werklik lewenslank sit en nie net 25 jaar nie.”

Vader Jeff Hollanders

Hollanders is vermoor minder as twee maande voordat hy sy 83ste verjaardag sou vier. “Ons was bekommerd oor sy veiligheid in die township, maar ek het nooit gedink hy sal só sterf nie,” het ’n geskokte Peeraer kort ná die moord gesê. “Die gemeenskap is baie kwaad oor die moord op Jeff, want hy was deel van hulle en baie geliefd. Hy het so ’n oop karakter gehad en was bereid om met enigiemand te praat. Jeff was baie liefdevol en 100% toegewyd aan sy werk.”

Peeraer en Hollanders het mekaar sedert hul studiejare in België geken. Albei het in die middel 1960’s na Suid-Afrika gekom om as sendelinge hier te werk. Hulle het baie onder arm gemeenskappe in Noordwes gewerk. Hollanders het dekades lank in die Delareyville- en Lichtenburg-omgewing gewerk, voordat hy ’n paar jaar gelede na Bodibe getrek het. “Ons het gereeld saam geëet en oor ons werk gepraat,” vertel Peeraer.

Die moordverhoor duur tot Vrydag.

Meer oor:  Noordwes  |  Vermoor  |  Kontant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.