Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Private vervolging van beweerde verkragter uitgestel

’n Oos-Kaapse vrou wat gehoop het dat sy Dinsdag vir die laaste keer haar beweerde verkragtingsvoorval in die hof moet herleef, is teleurgesteld huis toe.

Nadat die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap geweier het die beskuldigde in die saak te vervolg, het die 57-jarige slagoffer opnuut kans gesien om met die hulp van AfriForum se private vervolgingseenheid vir geregtigheid in die hof in Somerset-Oos te baklei.

Maar ná bykans vier jaar sedert die beweerde voorval, is die saak Dinsdag tot 23 Maart uitgestel sodat die beskuldigde ’n regsverteenwoordiger kan aanstel.

Die vrou het Dinsdag aan Netwerk24 gesê sy is weer eens teleurgestel in die hof, maar sy is hoopvol dat die private vervolging suksesvol sal wees en haar die genesing sal bied waarna sy smag.

“Ek wag al só lank dat hy sy dag in die hof sal kry.

“As ’n verkragtingslagoffer voel dit asof ek heeltyd in vrees lewe.”

Volgens haar moes sy haar onderneming sluit en het sy uit haar huis getrek omdat sy nie meer daar kon woon nie.

Na bewering het ’n kliënt van haar se kêrel op die nag van 2 September 2017 by haar huis ingebreek en haar verkrag.

As ’n verkragtingslagoffer voel dit asof ek heeltyd in vrees lewe.

Nadat die saak by die polisie aangemeld en ondersoek is, het die vervolgingsgesag besluit om nie te vervolg nie.

“Ek was platgeslaan hieroor. Dit voel soms vir my dit sal eintlik beter wees om dood te wees en ek het selfdood ’n paar keer oorweeg.

“Gelukkig het my vriende my ondersteun en gehelp om die saak privaat te laat vervolg.

“Ek het nie eers geweet daar bestaan private vervolging nie, want ek het maar net op die polisie en justisie vir geregtigheid staatgemaak.”

Die private vervolgingseenheid het op 12 Desember 2019 aansoek gedoen vir die nolle prosequi-sertifikaat, waarna dit op 30 Julie 2020 uitgereik is.

Die beskuldigde is op 31 Augustus 2020 in kennis gestel dat hy in die hof moet verskyn. Hy het op 9 Oktober in die hof verskyn en ’n afskrif van die klagstaat ontvang, waarna ’n verhoordatum van 23 tot 25 Februarie vasgestel is.

Tydens Dinsdag se hofsitting het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, die aansoek vir uitstel deur die beskuldigde teengestaan.

Hy sê die belange van die slagoffer kan nie bloot geïgnoreer word omdat die beskuldigde onredelik versuim het om ’n geskikte regsverteenwoordiger te reël nie.

Nel sê onnodige vertragings en uitstel raak nie net die slagoffers van misdaad nie, maar verswak die gemeenskap se vertroue in die strafregstelsel.

Boonop is een van die sleutelgetuies, ’n dokter wat die slagoffer ondersoek het, besig om na Kanada te emigreer en haar laaste dag in Suid-Afrika is op 28 Maart.

Meer oor:  Gerrie Nel  |  Oos-Kaap  |  Vervolging  |  Uitgestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.