Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Produsent eis R318 m. ná wilde betogings

Een van Suid-Afrika se voorste piesangprodusente eis R318 miljoen van die polisie en ’n vakbond weens skade wat betogers oor ’n tydperk van vier maande aangerig het terwyl die polisie glo net toegekyk het.

Umbhaba Estates, wat piesangs op drie plase in Mpumalanga verbou, het dié eis in die hooggeregshof in Pretoria ingestel teen die minister van polisie en die Food and Allied Workers Union (Fawu).

Umbhaba het gesê die skade is aangerig gedurende ’n onbeskermde staking op sy Hector­spruit-plaas wat in November 2015 deur Fawu gereël is.

Oor ’n tydperk van vier maande is die plaas basies verwoes: Meer as 152 000 jong piesangboompies het gevrek omdat werkers deur Fawu gekeer is om die plantjies te versorg en piesangs het in boorde en pakhuise gevrot. Umbhaba kon nie piesangs plant of bestaande piesang­bome bemes nie.

Abel Mkhatshwa, een van Umbhaba se werkers, is aangerand. Die polisie was op die toneel en het die aanranding na bewering sien gebeur – maar niemand in hegtenis geneem nie.

In die dae daarna is hekke afgebreek en brande gestig. Alles is by die polisie aangemeld, maar hulle het nie “betyds en behoorlik” opgetree nie.

Umbhaba het selfs op 10 November 2015 ’n hofbevel gekry wat die polisie gedwing het om verdere skade en geweld teen sy werkers te keer. Die polisie het die bevel nie uitgevoer nie.

Fawu-betogers het die piesangboorde en huise op die plaas aan die brand gesteek en nog werkers aangerand.

Voertuie is met klippe bestook. Die polisie het dit nie gekeer nie, sê Umbhaba.

’n Polisiekaptein het selfs gedreig om ’n kamera te konfiskeer toe ’n maatskappywerknemer foto’s van die wetteloosheid geneem het.

Umbhaba raam sy verlies aan markaandeel vir Maart 2015 tot Junie 2018 op R142 miljoen, en tot Junie 2020 op nog R50 miljoen.

Volgens Fawu moes die hooggeregshof egter nooit die saak aangehoor het nie omdat dit handel oor eise vir skade tydens ’n staking, en dat Umbhaba eerder arbeidshof toe moes gegaan het.

Regter Ronel Tolmay het nou bevind Umbhaba kan voortgaan met hul eis – mits hulle die woorde “staking” en “stakers” vervang met “protesoptrede” en “protesgangers”. Sy het gesê dat daar in die aanhoor van die eis bepaal sal word of dit ’n “staking” of “protesoptrede” was.

Tolmay het gesê die eis teen die polisie hou verband daarmee dat die polisie nie stappe gedoen het om skade aan Umbhaba se bedrywighede te keer tydens protesoptredes en opstande nie.

Fawu het destyds aangekondig hy veg om Umbhaba te oortuig om werkers toe te laat om lede van vakbonde te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.