Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Prokureur oordink dalk pleit ná 3 meisies verkrag is

’n Prokureur van Welkom het moontlik nou bedenkinge oor die feit dat hy skuld beken het op aanklagte dat hy sy twee stiefdogters en hul niggie verkrag en met twee van die stiefdogters se maatjies gelol het.

Adv. Dawie Joubert SC, nuut aangestelde regsverteenwoordiger van die prokureur, het Dinsdag voor regter Soma Naidoo betoog hulle sal moontlik later ’n aansoek bring nadat nuwe feite aan die lig gekom het. Daar is ook onduidelikheid oor sekere bekentenisse wat gemaak is.

Uit wat Joubert gesê het, kan afgelei word dat hy gaan aansoek doen dat die prokureur se skuldigbevinding (en dus ook sy pleit van skuldig) op regstegniese punte tersyde gestel word. Dit kan ook wees dat hy van die erkennings wat hy gemaak het, wil terugtrek.

Joubert het verder betoog afhangend van die nuwe feite wat na vore kom, sal ’n ingeligte besluit geneem word. Hulle sal op 29 Oktober vanjaar ’n kennisgewing van mosie indien om die staat van hul voorneme in kennis te stel.

Hy het ook gesê dat hy in November ’n aansoek tot die hof sal rig. Die uitslag daarvan sal waarskynlik bepaal of die verhoor dan voortgesit word of dat daar met die vonnisverrigtinge voortgegaan word.

Joubert het gevra dat die prokureur se borgtog verleng word.

Die prokureur (middel) met ’n vorige verskyning. Foto: Kaydene Davids

Tot dusver het die prokureur al die voorwaardes vir borgtog nagekom. Om sy borgtog nou in te trek kan die billikheid van die verhoor in gedrang bring. Daar sal geen nadeel vir of die publiek of regspleging wees as die borgtog verleng word nie, het hy gesê.

Die prokureur het in Mei vanjaar skuld beken op 16 aanklagte, waaronder drie van verkragting, vyf van seksuele aanranding en twee van seksuele gereedmaking.

Hy het beken dat hy sy twee stiefdogters en susterskind tussen 2010 en 2015 in Virginia en Welkom verkrag het.

Hy is ook op vier aanklagte van seksuele aanranding skuldig bevind nadat hy twee maatjies van sy stiefdogters op die mond gesoen het. Hy het hom ook teen een van hulle vasgedruk en sy geslagsdeel teen ’n ander gedruk.

Aan een van die maatjies het hy daarna R500 gegee om vir haar ’n mooi rok te koop.

Ná sy dade het die prokureur ook aan een van die stiefdogters duur geskenke gegee om haar stilswye te koop.

Sy dade het in Januarie 2017 ná ’n rusie met sy vrou en een stiefdogter op die lappe gekom.

Dit is kort hierna by die polisie aangemeld, en hy is op 26 Maart daardie jaar in hegtenis geneem.

Die dade het in 2007 in Virginia begin toe hy in die swembad aan sy een stiefdogter se geslagsdeel gevat en ook haar hand op syne geplaas het.

Naidoo sal Woensdag uitspraak gee oor of die prokureur se borgtog tot November verleng word.

• Advv. Mike Hellens SC en Willem Edeling SC, wat hom verteenwoordig het, het ook Dinsdag in die Vrystaatse hooggeregshof voor regter Soma Naidoo aan die verhoor onttrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.