Cobus Bredenkamp (38), ’n prokureur van Bloemfontein, is in die landdroshof op ’n aanklag van strafbare manslag vrygespreek ná ’n motorongeluk op die N1-hoofweg waarin ’n vrou middeldeur gery is.

Cobus Bredenkamp. Foto: Mike van Rooyen
Netwerk24Foto: Mike van Rooyen
Uit die uitspraak van landdros Richard Lawrence blyk dit dat die staat eers ’n geregtelike nadoodse ondersoek na die dood van Gladys Sandlhana (35) moes gehou het voordat besluit is om vervolging in te stel.
Die staat het geen getuienis aangebied wat tot Bredenkamp se skuldigbevinding kon lei nie.
Hy is ook onskuldig bevind op ’n aanklag dat hy versuim het om stil te hou en hulp te verleen.
Nadat die staat sy saak gesluit het, het Bredenkamp om ontslag aansoek gedoen. Lawrence het dit Woensdag toegestaan.
Op ’n video wat van die Engen-vulstasie langs die N1 gekry is, kan gesien word hoe iemand oor die pad loop en dan in die middel van die pad omdraai en teruggaan.
Dié gebeure waarin dié mens (Sandlhana) deur ’n bakkie getref word, het in ’n breukdeel van ’n sekonde gebeur.
Lawrence het gesê dit is ’n hoofweg en dit is onregmatig vir voetgangers om daar te loop. Motoriste sal nie verwag om ’n voetganger op die ry-oppervlak te kry nie.
Die staat kon nie bewys aan wie die bakkie behoort het en wie dit bestuur het die middag van 22 April 2017 toe die ongeluk reg oorkant die Engen-vulstasie gebeur het nie.
Lawrence het gesê dit lyk asof daar twee eienaars was. Luidens getuienis in die hof het Bredenkamp die bakkie verkoop en hy was nie meer die eienaar daarvan nie. Die nuwe eienaar het al daaraan afbetaal.
Motoriste sal nie verwag om ’n voetganger op die ry-oppervlak te kry nie.
Lawrence het gesê luidens getuienis het die bestuurder ’n entjie van die ongelukstoneel af stil gehou. ’n Getuie het ook getuig dat geen noodhulp meer vir Sandlhana sou kon help nie.
Oor die getuienis van Shaun Gilliland, destyds ’n prokureursklerk in Bredenkamp se praktyk, het Lawrence gesê die getuienis was swak en geen waarde kan daaraan geheg word nie. Gilliland was dié dag saam met Bredenkamp.
Adv. Willem Edeling SC het in opdrag van Pieter Peyper van Peyper Austen-prokureurs vir Bredenkamp opgetree. Adv. Allan Simpson het aangekla.