Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Prokureur’ soek toegang tot selfoon, rekenaar in tronk
Brenda Wardle, wat op aanklag van bedrog teregstaan, se saak is Donderdag weer uitgestel. Foto: Lulama Zenzile

Die vrou wat haarself na bewering as ’n praktiserende prokureur voorgedoen en kommentaar vir die BBC en die SAUK tydens die Oscar Pistorius-saak gelewer het, se verhoordatum is Donderdag vir die derde keer in die handelshof in Port Elizabeth uitgestel.

Brenda Wardle (56) staan tereg op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Prokureurs.

Dit volg nadat sy haarself as ’n praktiserende prokureur voorgedoen het wat spesialiseer in die vroeë vrylating van gevangenes op parool en die omskakeling van vonnisse van gevangenes onder korrektiewe toesig.

Haar verhoor is weens verskeie redes uitgestel en moes Donderdag begin het.

Wardle, wat haarself verteenwoordig, het aan die hof gesê dat sy ’n aansoek by die hooggeregshof teen die minister van korrektiewe dienste en ses ander mense ingedien het.

Dié aansoek is sodat ’n beslissing gemaak kan word dat sy toegang kry tot noodsaaklike fasiliteite, soos ’n selfoon en haar skootrekenaar, om haar vir haar verhoor voor te berei.

Sy het daarom uitstel gevra sodat die betrokke aansoek, wat maande kan duur, afgehandel kan word.

“Ek het op ’n vorige geleentheid reeds aangedui dat ek nie gereed is nie. Die aansoek is eers ’n paar dae gelede aan die staatsaanklaer gegee en sal waarskynlik eers in die eerste week van Maart aangehoor word.”

Sy het aan die hof gesê volgens haar berekeninge sou haar saak in die handelshof eers in Mei kan voortgaan.

Adv. Tjaart van Zyl, staatsaanklaer, was glad nie hiermee tevrede nie en het aan Hannes Claassen,landdros, gesê die staat het Wardle al baie probeer bystaan met die voorbereiding van haar verhoor, maar dat sy alle hulp geweier het.

Hy het hierna gevra die hof moet ’n beslissing maak dat Wardle moet pleit.

“Hierdie saak is al op die rol van Julie 2017 en is verskeie kere uitgestel vir verhoor. Sy (Wardle) was eers in ’n gemeenskaplike sel aangehou, maar die staat het gereël dat sy in ’n enkelsel geplaas word om haar te help met voorbereiding.

“Ons het ook aangedui dat sy vir ons moet sê watter afdelings van dossiere ons vir haar moet afrol, maar sy het geweier,” sê Van Zyl.

Hy het hierna gevra die hof moet ’n beslissing maak dat Wardle moet pleit en as sy weier, die staat dan ’n pleit van onskuldig kan instel en met die verhoor voortgaan.

Claassen sê dat dit Wardle se reg is om ’n aansoek by die hooggeregshof in te dien en dat hy haar dus genoeg tyd sal gee om die aansoek af te handel.

Indien sy met haar volgende hofverskyning steeds nie gereed is nie, sal hy dié beslissing maak.

Die saak is tot 22 Maart uitgestel.

Meer oor:  Bedrog  |  Rekenaar  |  Tronk  |  Selfoon  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.