Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Prokureur wat glo met kinders lol in Julie verhoor

’n Prokureur van Welkom wat na bewering sy twee stiefdogters, hul niggie, huisvriende se dogter en ’n maatjie seksueel aangerand en van die kinders verkrag het, se verhoor sal nou in die laaste week van Julie in die hooggeregshof in Bloemfontein begin.

Dit het nou ook bekend geword dat adv. Jaap Cilliers SC van die Pretoriase balie, wat vroeër vir onder andere dr. Wouter Basson, Jackie Selebi en die Waterkloof-vier opgetree het, sy regsverteenwoordiger sal wees.

Adv. Willem Edeling SC van die Vrystaatse balie sal Cilliers bystaan.

In ’n voorverhoor Dinsdag in die hooggeregshof voor waarnemende regter Rasheed Matthews is besluit dat die verhoor nie meer in Maart nie, maar in Julie aangehoor sal word. Die verhoor sal vir twee weke op die hofrol geplaas word.

Nog ’n voorverhoor sal volgende maand gehou word. Matthews het aangeteken dat die staat reeds alle besonderhede in die polisiedossier tot die verdediging se beskikking gestel het.

Luidens die klagstaat staan die prokureur (53) tereg op drie aanklagte van verkragting, sewe van seksuele aanranding, twee van seksuele gereedmaking, twee dat hy kinders aan pornografie blootgestel het, een van seksuele misbruik van kinders, een van die vervaardiging van kinderpornografie, een van onsedelike aanranding op ’n kind en een van aanranding op sy vrou.

Die staat beweer van die beweerde misdade het in 2007 begin en oor ’n aantal jare gestrek. Dit het in Virginia en Welkom gebeur, sê die staat.

Adv. Amanda Bester tree vir die staat op. Cilliers en Edeling tree in opdrag van Ronnie Bokwa van Bokwa-prokureurs en Herklaas Venter van Lovius Block-prokureurs op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.