Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
R631 miljoen vir huise wat nie gebou is nie
Foto ter illustrasie

Altesaam 106 boukontrakteurs word nou saam met Hlaudi Motsoeneng­, voormalige bedryfshoof van die SAUK, en Nozuko Mbalula, vrou van Fikile Mbalula, die minister van sport, gedagvaar oor ’n behuisingskandaal van honderde miljoene rande in die Vrystaat.

Luidens hofdokumente in Netwerk24 se besit het die Vrystaatse departement van menslike nedersettings tussen 2010 en 2011 ongeveer R631 miljoen aan behuising bestee sonder dat ’n steen gelê is.

Ntimotse Mokhesi, huidige hoof van die departement, verskaf in ’n beëdigde verklaring wat by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien is besonderhede oor die knoeiery.

Volgens Mokhesi het die departement betalings aan kontrakteurs en verskaffers gedoen sonder enige bewyse dat huise gebou of gedeeltelik gebou is, en sonder enige geskrewe ooreenkomste.

“Die departement het geen voorgeskrewe prosedure gevolg om aan te dui wie die verskaffers is aan wie die betalings gedoen word nie. Die algehele bedrag wat betaal is, is ongeveer R1 miljard,” het hy gesê.

“Die betalings is onwettig gedoen, omdat geen kontrakte hieroor met die verskaffers aangegaan is nie, geen behoorlike prosedure gevolg is nie en nie die nasionale behuisingsdepartement óf die nasionale tesourie hul goedkeuring daarvoor gegee het, of selfs daarvan geweet het nie. Boonop het geen van die verskaffers of kontrakteurs wat betaal is, ’n steek werk gedoen of enige materiaal verskaf nie,” lui Mokhesi se verklaring.

Geen van die verskaffers of kontrakteurs wat betaal is, het ’n steek werk gedoen of enige materiaal verskaf nie.

Die departement van menslike nedersettings dagvaar nou altesaam 106 kontrakteurs, Motsoeneng en Mbalula oor die onwettige betalings.

Luidens die verklaring het Mosebenzi Zwane, die destydse LUR vir menslike nedersettings, Mpho Mokoena, die destydse departementshoof van menslike nedersettings, en ander senior amptenare saam die projek beplan.

Dit het gekom nadat Tokyo Sexwale, die destydse minister van menslike nedersettings, gedreig het om die geld aan ander provinsies te betaal omdat die Vrystaat en nog drie ander provinsies toegekende geld onderbestee het.

Die Vrystaat het teen Oktober 2010 net 10% van sy toegestane R1,3 miljard van die nasionale tesourie vir HOP-huise gebruik.

Mokhesi sê in die verklaring die plan is gesmee om die geld wat onderbestee of te stadig bestee is, vinnig uit te gee voordat die provinsie dit sou verbeur.

Daar is toe voortgegaan om betalings aan verskaffers te doen sonder enige materiaal wat ontvang is of enige geskrewe ooreenkoms hieromtrent, blyk uit die hofstukke.

Meer oor:  Hlaudi Motsoeneng  |  Fikile Mbalula  |  Knoeiery  |  Huise  |  Fraud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.