Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Raad verwys Xulu-kwessie na komitee

Die Regspraktykraad het die kwessie rondom Barnabas Xulu, Kaapse regspraktisyn wat hom skuldig gemaak het aan verskeie klagte van minagting van die hof, na ’n ondersoekkomitee verwys.

Ingevolge die raad se regulasies moet alle klagte oor regspraktisyns ondersoek word voordat ’n besluit geneem word oor wat verder sal gebeur, het Sthembiso Mnisi, woordvoerder van die raad, Vrydag gesê.

Hy het bevestig die raad het waarnemende regter Mas-Udah Pangarker se onlangse uitspraak in dié saak in die hooggeregshof in Kaapstad ontvang.

Barnabas Xulu Foto: Argief

Die uitspraak het gekom nadat die staatsprokureur die hof in Februarie saam met die departement van landbou, bosbou en visserye genader het met ’n aansoek van minagting van minstens ses hofbevele en om Xulu, wat onder andere vir regter John Hlophe as kliënt het, te dwing om sy duur Porsche te oorhandig.

Die eerste bevel, wat gelei het tot verskeie ander aansoeke en bevele, almal ten gunste van die staat en die departement, is in 2019 deur regter Owen Rogers gemaak.

Hy het beveel Xulu asook Barnabas Xulu & Partners Incorporated (BXI) moet meer as R20 miljoen aan die departement terugbetaal nadat die voormalige minister hom betaal het vir regsdienste terwyl die departement geregtig was op gratis regsverteenwoordiging.

Sedertdien was daar verdere aansoeke teen Xulu en sy firma en hy het dit elke keer teengestaan.

Hy is onder meer beveel om R3,4 miljoen in ’n trustrekening te bewaar, wat hy nie gedoen het nie.

Daarom het die staat die minagtingsaansoek ingedien, en die hof het in 2020 bevind Xulu moet sy Porsche Carrera aan die staat oorhandig. Hy het ook versuim om dit te doen.

In Pangarker se uitspraak Dinsdag het sy bevind Xulu het ses bevele en die reputasie van die regstelsel geminag.

“Die getuienis, wat nie betwis is nie, skets ’n prentjie van ’n regsfirma en sy direkteur wat skaamteloos, doelbewus en disrespekvol teenoor hofbevele opgetree het.

Eerder as om die bevele na te kom, het Xulu en BXI verskeie onsuksesvolle hofaansoeke ingedien,” het Pangarker gesê.

Die getuienis, wat nie betwis is nie, skets ’n prentjie van ’n regsfirma en sy direkteur wat skaamteloos, doelbewus en disrespekvol teenoor hofbevele opgetree het.

Sy het gesê Xulu is soos enige ander mens wat ’n hofbevel moet nakom. Hy is nie daarvan vrygeskeld nie. Hy kan ook nie besluit watter bevele hy wil nakom en watter nie.

“Hy maak ’n grap van die regstelsel deur dit te doen,” sê Pangarker.

Volgens haar behoort Xulu te weet hy mag dit nie doen nie omdat hy al jare ’n regspraktisyn is. Daarom het Pangarker ook bevind hy het die basiese beginsels van ’n regspraktisyn oortree en dit bewys hy het geen respek vir die hof en die reg nie.

Pangarker het bevind Xulu moet Vrydag teen 12:00 sy voertuig aan die balju oorhandig en ook ’n boete van R30 000 betaal. Sou hy versuim om dit te doen, sal hy in hegtenis geneem word en 30 dae in die tronk deurbring.

Hy mag ook nie verder enige ander hofaksie neem met betrekking tot die saak nie.

Xulu is gelas met die koste van die saak en ’n afskrif van dié bevel moet aan die Regspraktykraad gestuur word vir hul kennisname.

Mnisi het bevestig hulle het die uitspraak gekry en die komitee sit op 21 Mei om dit te bespreek en te oorweeg.

Meer oor:  Barnabas Xulu  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.