’n Vrou van KwaZulu-Natal wat glo na pres. Cyril Ramaphosa as “ ’n aap” op Facebook verwys het, word deur ’n klag van crimen injuria in die gesig gestaar.
Die vrou, wie se naam aan Netwerk24 bekend is, het intussen al haar profiele op sosiale media gesluit.
Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die klag is op 21 April by die Brighton-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Hy kon nie sê wie die klag aanhangig gemaak het nie.
Die vrou het op haar Facebookblad glo na Ramaphosa verwys as “ ’n aap wat probeer optree soos ’n eerstewêreld-president”.
Skermgrepe van die plasing het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit is nie duidelik wanneer die vrou na bewering die inskrywing gemaak het nie.
Die blonde vrou besit haar eie maatskappy. Dié maatskappy se sosialemediaplatforms is intussen ook gesluit.
Naidoo sê die polisie win nog inligting in oor die voorval.
Gail Smith, woordvoerder van die Menseregtekommissie (MRK), kon nie Vrydagmiddag sê of hulle die voorval ondersoek nie.