Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rameez Patel sê oor krieketkolf op plafon in ouerhuis

“Ons is ’n familie wat lief is vir krieket en het baie krieketkolwe. Ons stoor dit in die dak van my ouerhuis.”

Só het Rameez Patel (33), ’n sakeman van Polokwane, Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane aangevoer toe hy gedurende kruisondervraging gevra is oor die krieketkolf waarop die polisie ná die moord op sy eerste vrou, Fatima (28), in 2015 beslag gelê het.

Patel staan tereg vir die moord op Fatima, wat op Vrydagmiddag 10 April 2015 in die egpaar se meenthuis in die Nirvana-woonbuurt vermoor is.

Fatima Patel (28) is ses jaar gelede in Polokwane vermoor. Foto: Verskaf

Luidens die lykskouingsverslag is sy eers met ’n krieketkolf oor die kop geslaan, toe gewurg totdat haar tongbeen gebreek het en daarna is sy op kort afstand met ’n pistool in die gesig geskiet.

Adv. Letoabo Mashiane, staatsaanklaer, het gesê die polisie het afgekom op die krieketkolf wat op die plafon van Patel se ouerhuis versteek was.

Patel het gesê dat dit nie “versteek” was nie, want daar is stoorplek in die dak van sy ouerhuis waar krieketkolwe en ander sporttoerusting gebêre word.

Dit is dieselfde huis waarin sy ma, Mahejeen (52), in 2017 in haar kop geskiet is. Patel is ook vir dié moord aangekla en die verhoor sal in Augustus in die hooggeregshof in Polokwane begin.

Hy ontken skuld vir albei moorde.

Mashiane het Patel gevra oor sy jonger broer, Razeen, wat in 2018 teen hom getuig het. Razeen het toe getuig dat Rameez teenoor hom erken het “ek het Fati doodgemaak”.

Rameez Patel (33) in September in die hooggeregshof in Polokwane. Foto: Deaan Vivier

Regter Joseph Raulinga wou weet waar die transkribering van die hofdokumente is van Razeen se getuienis.

Mashiane en adv. Meshack Thipe , namens Patel, het gesê hulle het nooit die transkribering van dié gedeelte van die hofrekord gekry nie.

“Ek ruik ’n rot, want dit is nie die eerste keer dat ek vra dat die hele hofrekord getranskribeer moet word nie.”

Raulinga het gelas dit moet voor einde April aan die hof en albei regspanne gegee word.

Hy het gesê hy vind sekere aspekte van die saak vreemd, soos dat die polisie op verskillende tye beslag gelê het op klere wat Patel op die dag van die moord aangehad het.

“In ’n ernstige saak soos hierdie moet die polisie tog alles agtermekaargekry het. Ek kan verstaan hoekom daar ’n nuwe ondersoekspan aangestel is.”

Die moord op Fatima is eers deur die Westenburg-polisiekantoor in Polokwane ondersoek, maar die saak is later oorgeplaas na die eenheid vir ernstige geweldsmisdaad in Limpopo.

Raulinga het die verhoor tot 7 Julie uitgestel.

• Patel is intussen met Nasreen Mayet getroud. Haar pa, Yunus (52), is op 8 September 2018 by sy huis in Polokwane ontvoer. Sy lyk met nie minder nie as agt skietwonde is later in ’n veld buite die stad gekry. Niemand is nog vir dié moord in hegtenis geneem nie.

Die raaisel oor die skietdood van Patel se pa, Feroz, wat in Augustus 2016 in ’n koeëlreën in ’n oënskynlike rooftog dood is, is ook nog nie opgelos nie.

Meer oor:  Rameez Patel  |  Krieketkolf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.