Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rapport-man se boek oor Henri van Breda: ’n Eksklusiewe uittreksel

Die verhouding tussen Henri van Breda en sy pa se familie het verbrokkel sedert sy gesin drie jaar gelede in Stellenbosch vermoor is, skryf Julian Jansen in Die De Zalze-moorde. Hier volg ’n uittreksel uit hoofstuk 13 van die boek: “Moordhuis en ’n doodsdans in bloed”, oor onder meer ’n onderhoud wat Jansen gevoer het met Bailey van Breda, broer van die vermoorde Martin van Breda.

Henri van Breda die afgelope week in die hof. Foto: Adrian de Kock

‘Dis ’n feëverhaal, enigeen kan dit sien,” sê Bailey van Breda oor die foon. Hy het Henri se pleitverduideliking in die koerant gelees en klink weer opgewerk.

“Ons is nie baie opgewonde daaroor nie. Hy weerspreek hom net so!” Van Breda het ’n ligte stotter as hy opgewonde raak. “Die regstelsel moet sy gang gaan, maar Pieter Botha met sy buitensporige, bliksemse fooie . . .” Bailey se stem raak weg.

Is bloed dikker as water? Henri van Breda omhels sy oom, André van Breda, kort voor laasgenoemde se getuienis. Foto: Jaco Marais

Dan weer oor Henri: “Ons praat nie met hom nie. Tussen my en André is dit net ek wat nou en dan met hom oor die foon praat. Dan is dit net hoe gaan dit, wat doen hy en sulke dinge, jy weet. Niks van die hofsaak, die ander goed nie.

Weer verander hy die onderwerp: “Waar bly hy en daai kind (Daniellá)? Ons hoor hy huur ’n huis iewers in die Kaap. Wie het die geld vir hom gegee?” Van Breda gooi die vrae in die lug, maar verwag skynbaar nie antwoorde nie.

Ek probeer kommentaar oor die hofsaak uit hom kry, maar hy skop vas soos ’n steeks donkie. “Ons, die Van Bredas, gaan nie nou iets op rekord en vir enige publikasie in die koerant sê nie. Ons prokureurs het ons gewaarsku om absoluut niks te sê nie. As ons nóú iets sê oor Henri, kan dit hofsake word. Susan Galloway (vir die staat) het ons ook mooi gevra om nie nou met die media te praat nie. André vlieg volgende week af Kaap toe. Dan kom ek dalk saam. Nee jong, die koerante bel aanmekaar, maar André stuur hulle in hul moer in. Hý is die kwaai een!”

                                                                                                   ***

“Môre sersant Kleynhans!” (Pieter) Botha se stem is amper opgewek toe hy sy kruisverhoor van die staat se eerste getuie begin. Hy val dadelik vir sers. Adrian Kleynhans (die eerste polisielid op die moordtoneel) se stelling aan dat iemand die eiendom slegs deur die swart hek of die voordeur kon betree. “My prokureur het gister gewys hoe maklik dit is om oor die hek te kom. U onthou dit?”

Een van die aangrypendste foto’s is dié van Rudi van Breda wat op die toneel geneem is.

Dan fokus Botha op Kleynhans se getuienis dat die vensters die betrokke nag op ’n skrefie oop was, terwyl hy in sy verklaring gesê het die vensters was oop. Sou iemand daar kon inklim sonder om die venster oop te forseer? “Dit is moontlik, as hy skraal is,” antwoord Kleynhans.

Botha draai die skroewe aan. Toe Kleynhans hom in ’n sta­dium vra om ’n vraag te herhaal, vermaan hy hard: “Wat was my vraag? U moet asseblief luister . . .”

(Regter Siraj) Desai tree op sy rustige manier tussenbeide: “Meneer Botha, dis nie nodig om u stem te verhef nie.” Op Botha se “U edele, ek is bekend as iemand met ’n harde stem,” sê die regter net: “Dis nie nodig nie.”

Wanneer Botha voortgaan, is dit in ’n effens sagter toon. Hy wil onder meer weet hoekom Kleynhans die beskuldigde as

senuagtig beskryf het. Hy was emosioneel en hy kon dit aan sy gesigsuitdrukking sien, sê Kleynhans. Hy was bewerig en hy het hom laat sit en met hom gesels.

Dan wil Botha weet of Kleynhans die beskuldigde as getraumatiseerd beskou het. “Dis korrek,” sê Kleynhans. Hy vra Kleynhans om sy verklaring te lees waarin hy sy aankoms op die toneel beskryf. “Ek kon sien dat die persoon baie getraumatiseerd is,” lees Kleynhans. Botha hou hom stip dop oor die smal lense van sy rooiraambril. Hoekom praat hy in sy verklaring van getraumatiseerd terwyl hy ’n paar minute vroeër getuig het hy het nie die beskuldigde as getraumatiseerd beskou nie, maar wel as “senuagtig” en “paniekbevange”? wil hy weet.

Dit lyk of Kleynhans verbouereerd raak. Hy vee oor sy voorkop. “Jô, ek’t ’n fout gemaak. Hoe verduidelik ek dit . . . Ek weet self nie.”

Bailey en André van Breda in Mei vanjaar by die hooggeregshof.

Elke hofdag lê die staat se dik foto-album waarin die getuienis gedokumenteer is, voor in die hof. Met die media se nuuskierigheid wat die oorhand kry, verleen die griffier toestemming dat hulle tydens ’n teepouse daarin mag loer.

Van die foto’s is baie grafies. Een van die aangrypendste foto’s is dié van Rudi (Van Breda, Henri se broer) wat op die toneel geneem is. Hy lê in sy bokserbroek op sy maag, deels op ’n mat en deels op die plankvloer, met sy een voet na die badkamerdeur. Dis egter die bloedpatrone rondom sy lyk wat jou aandag trek. Op die oog af lyk dit soos die kunswerk van ’n kleuter in donkerrooi verf. Kyk jy egter langer, sien jy daarin die glymerke van wat lyk soos kaal voete – ’n makabere danspatroon van ’n helse geveg tot die dood.

Julian Jansen se boek Die De Zalze-moorde gaan een van die dae ’n draai in Hollywood maak. Foto: Edrea du Toit

Boek dalk na Hollywood

Die gruverhaal van Henri van Breda en die De Zalze-bylmoorde in Stellenbosch gaan dalk ’n draai maak in Hollywood. ’n Produksiemaatskappy van Los Angeles het die filmregte van die boek Die De Zalze-moorde gekoop. Dit kan óf ’n televisiereeks, óf ’n dokumentêre fliek word.

“Ek is heeltemal stomgeslaan,” sê Julian Jansen, verslaggewer by Rapport. “Dit sal eers by my begin insink as daardie mense Suid-Afrika toe vlieg of wanneer ek dalk Amerika toe moet gaan.”

Jansen was een van die heel eerste joernaliste wat in Januarie 2015 naby die moordtoneel kon kom om daaroor te berig.

“Ek het maar net oor elke hofsaak vir Rapport geskryf. Dis al,” sê Jansen. “Ek het nooit in my wildste drome soveel aandag verwag nie. Ek het wel gereeld die saak wyd op sosiale media gedeel en ek vermoed dat ’n werwer vir die produksiemaatskappy die storie só opgetel het. Hulle het toe met Tafelberg Uitgewers (wat die boek uitgee) kontak gemaak.”

Jansen hoop die verfilming sal plaaslik gebeur.

“Ek het onlangs ’n fliek gekyk oor Oscar Pistorius se hofsaak en ’n mens kon duidelik sien dat dit hoofsaaklik buite Suid-Afrika geskiet is. Ek hoop as ’n fliek gemaak word, word dit in Stellenbosch en Kaapstad verfilm.

“Daar is net soveel elemente in die storie wat my steeds aangryp,” sê Jansen. “Dié skatryk mense, hul oënskynlike superveilige landgoed, Alcatraz-sekuriteit, 60% van ’n gesin uitgewis en nou ’n opspraakwekkende verhoor.”

Die boek is reeds op die rak, maar die hofsaak sal eers aanstaande jaar afgehandel word.

“Ek kon Henri se opspraakwekkende getuienis inwerk. Die boek gaan oor die storie agter die tragiese gebeure, maar gee lesers ook ’n kans om aan die einde ’n opinie te vorm oor hoe húlle dink die verhoor gaan uitspeel.” – Jaco Nel

Meer oor:  Henri Van Breda  |  Boek  |  Bylmoorde  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.