Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Rassistiese fliek’ kos haar werk

’n “Rassistiese en neer­halende” fliek oor ’n albinogorilla waarin Pierce Brosnan sou speel, het ’n werknemer van die Industrial Development Corporation (IDC) haar werk gekos.

Tracey Roscher

Die IDC was in 2008 op die punt om finansiering van $14 miljoen aan White Ape Producers te gee vir die gesinsrolprent Vanilla Gorilla. Die fliek, wat toe nie in Suid-Afrika gemaak is nie, handel volgens movieweb.com oor die wêreld se enigste lewende albinogorilla wat gebaretaal met ’n meisie van New York praat en saam met haar Afrika trotseer om hom weer in die natuur te hervestig. Brosnan sou die meisie se pa speel.

Die IDC-werknemer wat vir die projek verantwoordelik was, Tracey Roscher, is in Januarie 2010 afgedank omdat sy wanvoorstellings oor die fliek gemaak het.

Voor finansiering goedgekeur word, moet sekere dinge gebeur. Daar moet sekuriteit verskaf word in ruil vir die IDC se finansiering en die nasionale rolprent-en-videostigting (NFVF) moet ’n mening oor die draaiboek gee.

Vanilla Gorilla het nie verder as ’n loketplakkaat gevorder nie.

Roscher het ’n aanbeveling aan die IDC se kredietkomitee gemaak, maar sekere inligting uitgelaat. Dít is dat die NFVF die rolprent beskou as “neerhalend en rassisties teenoor Afrikane” en dat vorige rolprente van ’n soortgelyke “smaak en aard” lae opbrengste in die VSA en elders gelewer het.

Die NFVF het in Junie 2008 in die draaiboekhersiening gesê die fliek sal waarskynlik nie goed vaar op Suid-Afrikaanse skerms nie, omdat stereotipiese karakters gebruik word. “Die vraag is waarom ons rolprente vir dié mark moet maak met sy duidelik rassistiese voorskrifte oor Afrika en Afrikane. Dit sê Afrikane het ’n ryk wit meisietjie nodig om te kom en hulle te leer oor die ware waardes van natuurbewaring en liefde vir diere!”

Die onwaarskynlikste aspek van die ontknoping “is die tyd wat dit neem vir dié karakters om te beweeg van wat Suid-Afrika blyk te wees, deur Zimbabwe en Zambië na Rwanda asof dit een land is”.

Die NFVF het die fliek vergelyk met byvoorbeeld Mighty Joe Young, wat nie geld ingekatrol het nie. Dit het $110 miljoen gekos, maar net $50 miljoen verdien.

Pierce Brosnan

Roscher het haar afdanking by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) suksesvol betwis, maar die IDC het die saak na die arbeidshof geneem. Die arbeidshof het bevind dit was geregverdig om Roscher af te dank.

Roscher het hierteen in die arbeidsappèlhof geappelleer en dié het nou ook teen haar bevind.

In die appèl is bevind Roscher het die vertroue tussen haar en haar werkgewer só erg geskend dat ’n voortgesette werksverhouding ondraaglik geword het.

Die $14 miljoen sou 49% van die fliek se totale produksiebegroting beloop. Teen die wisselkoers in 2008 sou dit die IDC meer as R115 miljoen gekos het. Al wat Roscher in haar aanbeveling vir finansiering gesê het, was dat die NFVF die draaiboek “as gemiddeld beskou”.

Haar aanbeveling het gesê daar sal sekuriteit vir die finansiering wees deur Walmart se bestelling van 1,2 miljoen DVD’s van die fliek en dat sy met Walmart in die VSA vergader het om die bestelling te bevestig. Walmart sou $13,25 per DVD betaal.

Volgens die appèlhofuitspraak is daar vooraf besluit dat Roscher en ’n kollega Walmart in die VSA sou besoek. Sy het goedkeuring van die kredietkomitee gekry vir die betaling van R252 000 vir ’n reis soontoe van 10 tot 18 Junie 2008.

Walmart het egter vanaf Maart 2008 al dit duidelik gemaak dat hy nie só ’n bestelling sal plaas of enige ander vorm van waarborg sal verskaf nie. Dit is volgens Roscher se kollega aan hulle bevestig toe hulle in Amerika was.

Roscher se advokaat het in haar appèl aangevoer sy het geen plan gehad om die IDC te mislei nie en dat haar optrede nie afdanking regverdig nie. In die appèl is bevind die aanbeveling was misleidend oor die sekuriteit wat Walmart vir die finansiering sou verskaf. Sy was minstens nalatig.

Haar verskoning dat sy die draaiboekhersiening aan haar toesighouer gegee het sonder om dit in haar aanbeveling in te skryf, is nie voldoende nie, het die hof bevind.

Meer oor:  Pierce Brosnan  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.