Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
RDK bekyk nou klagte teen Kaapse hoofregter en vrou
Regter Gayaat Salie-Hlophe op ’n ter plaatse ondersoek tydens die verhoor van Jason Rohde. Foto: Jaco Marais

Die kookpot van beskuldigings tussen regters van die hooggeregshof in Kaapstad het plaaslike advokate só bekommerd dat die Kaapse balieraad hoofregter Mogoeng Mogoeng gevra het om dringend tussenbeide te tree.

Regter Gayaat Salie-Hlophe.Foto: Verskaf

Die Kaapse balieraad het Woensdag aan Mogoeng Mogoeng geskryf dat daar “met groot kommer” kennis geneem word van die bewerings van wanadministrasie en wangedrag.

Dit het gevolg nadat Patricia Goliath, adjunk-regterpresident van die Wes-Kaap, op 15 Januarie ’n klag van grootskaalse wangedrag teen John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, ingedien het.

Goliath voer aan dat Hlophe en sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, die bestuur van die hooggeregshof in Kaapstad in die gedrang bring en hul afdeling deur vrees en intimidasie bestuur.

Die Kaapse balieraad het luidens ’n kennisgewing wat aan lede van die balieraad gestuur is, sy hoop en vertroue uitgespreek dat die regterlike dienskommissie (RDK) die bewerings vinnig en deeglik sal ondersoek.

Mogoeng Mogoeng word volgens die kennisgewing versoek om “dringende stappe” te doen sodat die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof sigbaar bestuur word in ooreenstemming met die norme en standaarde vir juridiese funksies hangende die uitslag van die klag wat teen Hlophe en Salie-Hlophe by die RDK ingedien is.

Terwyl die balieraad sy kommer oor die stand van sake uitgespreek het, het Salie-Hlophe Saterdag ’n verklaring uitgereik waarin sy uitvaar teen Goliath.

Salie-Hlope sê die bewerings teen haar is onwaar en ten beste ’n “geskinder op welsprekende wyse” wat ontwerp en georkestreer is om haar te verkleineer as deel van ’n pad en agenda van vernietiging;

Sy sê voorts daar was nog nooit enige klagte dat sy (Salie-Hlophe) betrokke is by die bestuur en administrasie van die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof nie, dat sy voorgetrek is of ’n regter geword het op ’n onbehoorlike manier nie.

Volgens Salie-Hlophe is die bewerings teen haar, soos dat sy slegs met Hlophe getroud is om mag te bekom, ’n duidelike bewys dat sy die gemeenskaplike skade ly in ’n aanval teen Hlophe.

John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap. Foto: Bongiwe Gumede

Salie-Hlophe verwys ook na ’n saak wat volgens haar sub judice is en voor die appèlhof dien en sê dit is onaanvaarbaar dat ’n regter dit as gepas beskou om kommentaar te lewer op ’n saak wat onafgehandel is. Voorheen is berig dit hou verband met die appèlaansoek van Jason Rohde wat skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan.

Sy val Goliath openlik aan en voer aan dat Goliath behep is met haar huwelik met Hlophe.

Volgens Salie-Hlophe is dit duidelik dat Goliath meen sake raak meer ernstig en sensitief afhangend van die ras en klas van die betrokkenes. Sy beskuldig Goliath ook daarvan dat sy openlik sê mense was al in haar lewe neerbuigend teenoor haar, maar dat sy “ten minste nie ’n k___tjie” is nie.

Goliath het Sondagmiddag by navraag gesê sy gaan nie in die stadium kommentaar lewer op Salie-Hlophe se bewerings nie omdat die saak deur die RDK hanteer word. “Ek wag vir daardie proses om sy verloop te neem,” het sy gesê.

Warda Meyer het vroeër berig dat Goliath in ’n beëdigde verklaring wat by die RDK ingedien is, beweer dat Hlophe en Salie-Hlophe die bestuur van die hooggeregshof in Kaapstad in die gedrang bring en hul afdeling deur vrees en intimidasie bestuur.

Goliath beskuldig Hlophe daarvan dat hy regters viktimiseer en sy vrou voorkeurbehandeling gee.

Volgens Goliath se klag is verskeie regters glo bang vir Salie-Hlophe en dat sy betrokke is by die bestuur van die hof, die toewysing van sake en beheer het oor wie as waarnemende regters aangestel word.


Meer oor:  John Hlophe  |  Patricia Goliath  |  Mogoeng Mogoeng  |  Klagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.