Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
RDK hoor kleur moenie met aanstel van regters rol speel

Daar moet met die aanstelling van regters in die konstitusionele hof nie gekyk word na die pigmentasie van die kandidate se vel nie, maar eerder na die kundigheid wat hulle aan dié hof kan bied.

So het appèlregter Rami Mathopo Dinsdag voor die Regterlike Dienstekommissie (RDK) getuig in antwoord op ’n stelling van adjunk-appèlregterpresident Xola Petse.

Petse het gesê dat daar tans geen wittes of Indiërs onder die konstitusionele hof se regters is nie, al maak die Grondwet dit duidelik dat dié hof se samestelling verteenwoordigend van die land se bevolking moet wees.

Regter Rami Mathopo toe hy nog ’n regter in die Johannesburgse hooggeregshof was. Foto: Argief

Mathopo, wat tans ’n waarnemende regter in die konstitusionele hof is, is een van nege kandidate vir die twee vakante poste in die land se hoogste hof – dié van regter Bess Nkabinde, wat in 2017 al afgetree het, en dié van regter Edwin Cameron (2019).

Regter Aubrey Ledwaba, adjunk-regterpresident van Gauteng, was aanvanklik een van die kandidate, maar het hom onttrek. Hy is ook benoem vir ’n pos in die appèlhof.

Onderhoude sal ook gevoer word met sowat 70 kandidate vir 31 poste in howe landwyd.

Mathopo het aan die RDK gesê Suid-Afrika behoort aan al sy mense, swart en wit. Dit is volgens hom nie verpligtend dat die samestelling verteenwoordigend moet wees nie. Die wet sê dit moet wel oorweeg word.

“Die ‘getalle-spel’ kan nie hier gespeel word nie.

“Vir 25 jaar was daar nie ’n enkele bruin regter (in die konstitusionele hof) nie en niemand het gekla artikel 174 (van die Grondwet) word oortree nie,” het die 58-jarige Mathopo gesê.

Hy beskryf homself as ’n “veelsydige prokureur met diverse ervaring” wat in 2006 ’n regter in die Johannesburgse hooggeregshof geword het en sedert 2014 ’n appèlregter in Bloemfontein is.

Mathopo het aan die paneel vertel hy was een van 11 kinders.

Sy familie het baie opgeoffer om dit vir hom moontlik te maak om aan die Universiteit van die Noorde (nou Limpopo) te gaan studeer.

Hy het hulle vir dié opoffering vergoed deur later vir “meer as die helfte van hulle” te betaal om universiteitskwalifikasies te behaal. Die regter het ook van sy neefs en niggies gehelp.

Die paneel het ook gehoor Mathopo het ’n groot passie vir opleiding en help graag nuwe en aspirerende regters oplei en selfs om kandidate voor te berei vir onderhoude met die RDK.

Die konstitusionele hof in sitting. Foto: Argief

“Ek maak altyd tyd om mense te help, want opleiding is vir my van die allergrootste belang. Terwyl ek ander oplei, leer ek self baie.”

Mathopo het ook vir vroue in die bres getree en gesê hy glo meer vroueregters is nodig. Hy help graag met opleiding.

“Vroueregters bring iets spesiaal na die regbank.”

Hy glo hy het in die hooggeregshof en die appèlhof baie ervaring met die skryf van uitsprake opgedoen wat hy glo hom in die konstitusionele hof nuttig te pas sal kom.

“Ek glo ’n regter moet so gou moontlik ná die afhandeling van ’n saak in die belang van die reg uitspraak lewer.”

Dit moet ook geleerde uitsprake wees waaruit byvoorbeeld regstudente iets kan leer.

Oor sy ervaring die laaste twee jaar as waarnemende regter in die konstitusionele hof het hy gesê “dit is ’n gemaklike plek om jou bene uit te strek en uitsprake te skryf”.

Die RDK voer nog tot 23 April onderhoude met die sowat 80 kandidate wat vir die onderskeie poste aansoek gedoen het.

Die nege kandidate vir die twee poste in die konstitusionele hof:

Adv. Alan Dodson SC (60): ’n Voormalige regter in die grondeisehof, wat ook ’n direkteur van die Legal Resource Centre was voordat hy vir die VN se behuising- en eiendomeisekommissie gaan werk het.

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane (55): Regter in die hooggeregshof in Johannesburg.

Regter Jody Kollapen (63): Regter in die hooggeregshof in Pretoria en voormalige voorsitter van die Menseregtekommissie.

Regter Rami Mathopo (58): ’n Appèlregter, voormalige regter in die hooggeregshof in Johannesburg. Die afgelope twee jaar ’n waarnemende regter in die konstitusionele hof.

Regter Shehnaz Meer (65): Regter in die hooggeregshof in Kaapstad en waarnemende regterpresident van die grondeisehof.

Regter: Muhabe Molemela (56): ’n Huidige appèlregter, voormalige regterpresident van die Vrystaat en militêre regter. Het al in die konstitusionele hof as regter waargeneem.

Regter Dhaya Pillay (63): Regter in die hooggeregshof in Pietermaritzburg, voormalige regter in die arbeidshof, twee termyne in die appèlhof, ’n kommissaris van die Verkiesingskommissie en waarnemende regter in die konstitusionele hof.

Regter David Unterhalter (63): Regter in die hooggeregshof in Johannesburg en waarnemende appèlregter.

Regter Bashir Vally (62): ’n Regter van die Gautengse hooggeregshof en die kompetisie-appèlhof.

Meer oor:  Rdk  |  Regters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.