Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
RDK ondersoek hoofregter oor Israel-uitlatings

Hoofregter Mogoeng Mogoeng se uitlatings ten gunste van “apartheid-Israel” sal deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) ondersoek word.

Sello Chiloane, woordvoerder van die RDK, sê die groep Africa4Palestine het ’n klagte teen Mogoeng ingedien oor sy uitlatings ten opsigte van Israel.

“Die klag is na die waarnemende voorsitter van die Regterlike Gedragskomitee (RGK), adjunkhoofregter Raymond Zondo, verwys,” sê Chiloane.

Zondo het regter Phineas Mojapelo, ’n lid van die RGK, aangewys om die meriete van die saak te ondersoek ingevolge art. 17 van die Wet op die Regterlike Dienskommissie van 1994.

“Hierdie proses het begin,” sê Chiloane.

Hy kon egter nie sê hoe lank dit sal neem om tot ’n beslissing te kom nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Argief

Die klagte teen Mogoeng spruit uit uitlatings wat hy in Junie in ’n aanlyn gesprek met die Israelse koerant The Jerusalem Post gemaak het.

Africa4Palestine, wat deel is van die solidariteitsorganisasie Boycott, Divestment and Sanctions SA, onder leiding van oudminister Ronnie Kasrils, het einde Junie ’n beroep op die RDK gedoen om Mogoeng se uitlatings te ondersoek met die doel “om hom te straf weens die moontlike verbreking van die amptelike gedragskode omdat hy in die openbaar in sy hoedanigheid as hoofregter verskyn en kommentaar gelewer het wat strydig met Suid-Afrika se buitelandse beleid en die gees van die Grondwet is”.

Suid-Afrika se hoofrabbi, Warren Goldstein, het ook aan die gesprek oor onder meer internasionale rassespanning deelgeneem.

’n Herrie het losgebars nadat Mogoeng verskeie Bybelverse aangehaal het en gesê het dat hy as Christen nie haatdraend mag wees nie en vir almal lief moet wees, vir Israel en Palestina.

“Eerstens omdat dit ’n gebod van God is, maar ook omdat jy wat vrede nastreef ’n kritieke rolspeler wil wees waar daar ’n dispuut is.”

Hy het ook gesê dat Suid-Afrikaners “oudpres. Nelson Mandela se vergewensgesindheid en groot hart moet gebruik om wêreldwyd vrede te bewerkstellig en te bemiddel”.

Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika se beleid oor Israel bindend op hom as landsburger is.

“Maar enige landsburger is ingevolge die Grondwet daarop geregtig om die wette en beleid van Suid-Afrika te kritiseer en selfs voor te stel dat veranderings daaraan nodig is.

“Ek is daarom as Christen verplig om lief te wees vir Israel en vir hom te bid omdat ek weet ons haat vir Israel kan ongekende vloeke oor ons bring.”

Mogoeng is erg deur die ANC en die EFF gekritiseer en hy is gevra om sy uitlatings terug te trek.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het vroeër gesê hoewel die onderhoud met Mogoeng as Christen in sy persoonlike hoedanigheid gevoer is, het hy “politieke kommentaar” gelewer.

“Die hoofregter is inderdaad ’n landsburger, maar hy is ook die primêre beskermheer van die Grondwet van Suid-Afrika. As die regering die Handves van Menseregte skend, moet hy en die regbank die Grondwet met alle mag verdedig. Sy verskil met regeringsbeleid is daarom uiters kommerwekkend omdat die hoofargument van die beleid oor Palestina op menseregte gegrond is.”

Mogoeng het aan Gateway News, ’n Christelike Suid-Afrikaanse nuuswebwerf, gesê hy sal nie sy uitlatings terugtrek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.