Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regering appelleer: ‘Regulasies dien doel en is binne Rampwet’

Pres. Cyril Ramaphosa en sy ministers meen alle regulasies van die staat van inperking is behoorlik uitgevaardig, het ’n spesifieke doel gedien én is binne die raamwerk van die nasionale Rampbestuurswet.

Jackson Mthembu ... Die kabinet het ook die verlenging van die nasionale ramptoestand van 15 Junie tot 15 Julie goedgekeur. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Jackson Mthembu, minister in die presidensie, is dít waarom die kabinet Donderdag op ’n spesiale vergadering besluit het om dringend teen regter Norman Davis se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria te appelleer. Die vergadering is spesiaal gehou om die uitspraak te bespreek.

Davis het Dinsdag bevind dat talle van die regulasies vir vlak 4 en vlak 3 van die inperking, irrasioneel, ongrondwetlik en ongeldig is. Die dringende aansoek is gebring deur Reyno de Beer en sy Liberty Fighters Network, sowel as die Hola Bon Renaissance-stigting teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in haar hoedanigheid as minister van samewerkende regering en tradisionele sake wat vir die regulasies verantwoordelik is.

Die regering is 14 werkdae gegun om die regulasies te heroorweeg, te wysig of te verander.

Mthembu het Donderdagmiddag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê die hofuitspraak was die hoofitem op die spesiale kabinetsvergadering, wat virtueel gehou is.

Nadat ons regsadvies ingewin en na verskeie regslui se kommentaar in reaksie op die uitspraak geluister het, is ons (die kabinet) van mening dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking oor die aangeleentheid sal kom.

“Nadat ons regsadvies ingewin en na verskeie regslui se kommentaar in reaksie op die uitspraak geluister het, is ons (die kabinet) van mening dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking oor die aangeleentheid sal kom.”

Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal hulle by Dlamini-Zuma in die appèlaansoek aansluit.

Volgens Mthembu wil die kabinet ook die hele nasie verseker dat alle ingrypings hoofsaaklik daarop gerig was om lewens te red.

“In die implementering van hierdie ingrypings het die regering deurlopend met alle sektore van die samelewing beraadslaag omdat die stryd teen Covid-19 ’n nasionale poging is wat verenigde optrede tussen die regering en alle Suid-Afrikaners vereis.”

Die kabinet het dit ook duidelik gestel dat die huidige regulasies tydens die appèlaansoek van krag bly. ’n Beroep is ook gedoen op alle Suid-Afrikaners om steeds te voldoen aan alle gesondheidsprotokolle wat ingestel is, soos die was van hande, die handhawing van ’n gesonde afstand, die dra van maskers in die openbaar, sowel as siftingsprosesse en die verwysing vir toetsing waar nodig.

Volgens Mthembu het die kabinet ook die verlenging van die nasionale ramptoestand van 15 Junie tot 15 Julie goedgekeur. Ingevolge die nasionale Rampbestuurswet geld ’n ramptoestand net vir 90 dae, waarna dit op ’n maandelikse grondslag verleng moet word.

“As wetenskaplike bewyse vereis om dit in Julie met nog ’n maand te verleng, sal ons dit doen, omdat die wet dit toelaat,” het Mthembu gesê.

As wetenskaplike bewyse vereis om dit in Julie met nog ’n maand te verleng, sal ons dit doen, omdat die wet dit toelaat.

Hy het bygevoeg dat die kabinet steeds oor die intensiteit van en toename in die Covid-19-infeksies in die Wes-Kaap bekommerd is.

Om dié rede gaan Ramaphosa die provinsie Vrydag saam met Mkhize en vyf ander ministers besoek sodat die situasie met Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en sy provinsiale administrasie bespreek kan word en die provinsie se gereedheid vir die voortdurende bestuur van die pandemie geassesseer kan word.

Goeie regsredes vir appèl

Prof. Elmien du Plessis, grondwetkenner by die Noordwes-Universiteit, het gesê dit is goed dat die kabinet wil appelleer omdat daar goeie regsredes daarvoor is.

“Die saak het nie die regsbeginsels toegepas wat dit neergelê het nie. So in reg is dit ’n problematiese uitspraak. Dit sal goed wees om regsekerheid te kry.

“Dis ook nie moontlik om alle regulasies ongrondwetlik te verklaar net omdat sommige ongrondwetlik is nie. Die regter moes elke regulasie individueel beoordeel het en ’n bevinding oor elkeen gemaak het. Ons weet nie watter is spesifiek ongrondwetlik nie, en dit help nie om dit in die minister se hande te los om dit te beoordeel nie.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het in reaksie gesê dit is teleurstellend dat die regering wil appelleer omdat ’n verantwoordelike regering eerder sy trots in sy sak sou steek en die betrokke regulasies in ooreenstemming met die uitspraak bring.

Volgens hom het sy party ook “ ’n ernstige probleem” met die eensydige kabinetsbesluit om die ramptoestand tot middel Julie te verleng omdat die parlement nie inspraak daarin gehad het nie.

Meer oor:  Elmien Du Plessis  |  Vlak 4  |  Covid-19  |  Rampbestuurswet  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.