Kos mag vir die volgende vier weke deur hulporganisasies uitgedeel word sonder dat die verspreiding verder deur die nasionale regering gesentraliseer mag word.
James Lorimer, DA-LP, sê in ’n verklaring hoewel dié party se aansoek oor die verspreiding van hulp in die hooggeregshof in Kaapstad vir eers oorstaan tot ’n latere datum, is ’n tussentydse bevel gemaak dat nieregeringsorganisasies kos mag versprei soos hulle goeddink.
Lorimer sê Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, se poging om die verspreiding van kos te reguleer word met die DA se hofaansoek uitgedaag.
Zulu word in die tussentydse hofbevel gemaan om amptenare in haar departement en alle LUR’e van maatskaplike ontwikkeling in kennis te stel van die beslissing.
Ook die polisiekommissaris moet die bevel onder die aandag van polisiebeamptes bring.
Regter Robert Henney het die aansoek, wat deur die DA en die 1000 Women Trust gebring is, uitgestel tot 19 Junie en ’n tussentydse bevel gemaak oor die verspeiding van voedselhulp.
Henney het beveel polisiebeamptes, amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling of enige ander openbare beamptes mag nie die verspreiding van koshulp keer of dat mense die kos in ontvangs neem nie.
Lorimer sê die nasionale regulasie wat die afgelope drie weke afgedwing is, het daartoe gelei dat sopkombuise hul deure moes toemaak en dat streng maatreëls gegeld het oor die verspreiding van kospakkies. Dit het veroorsaak dat die kos nie by duisende honger mense kon uitkom nie omdat organisasies gedreig is dat diegene wat die kos versprei in hegtenis geneem sou word.
“Ons glo dat duisende mense hierdeur honger gely en aan wanvoeding onderwerp is,” sê Lorimer.
Hy meen Zulu is nie reg in haar kop met haar plan nie want haar departement kan nie eens sy gewone werk doen nie, laat staan nog ’n behoorlike netwerk daarstel om die hulp aan miljoene mense te versprei.