Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regslui kyk na Kaap se verordening oor haweloses

Die nasionale vereniging van demokratiese regsverteenwoordigers (Nadel) het ’n regspan saamgestel wat die geldigheid, relevansie en grondwetlikheid van die Kaapse metroraad se verordening oor haweloses die stryd sal aansê.

Dit kom nadat die metro onlangs boetes aan haweloses uitgereik het.

Nadel sê in ’n verklaring arm mense het die teiken van die verordening geword. Dit is “ ’n herinnering aan ’n wrede koloniale en apartheidsera-styl-aanval op die kwesbaarste mense in die samelewing”.

Nadel sê dié verordening, “wat sy plek in ’n demokratiese samelewing verloor het”, het ’n invloed op haweloses, bedelaars, straatkinders en -smouse.

Die Menseregtekommissie (MRK) het verlede week gesê haweloses beweer al hul besittings word soms afgeneem en agterop ’n voertuig gegooi wanneer wetstoepassers hul strukture afbreek of hulle uit openbare ruimtes verwyder.

Haweloses word glo geteiken oor die skuilings wat hulle in openbare plekke bou. Foto: Getty Images

Dit sluit in hul ID’s, kliniekkaarte, Sassa-kaarte, medisyne en ander persoonlike besittings.

Die MRK gaan die toepassing van dié verordening ondersoek, asook onlangse voorvalle waar hawelose mense beboet is.

Die MRK het glo al meer as 100 klagtes oor die invloed hiervan op die arm en hawelose gemeenskap ontvang.

“Die verordening wat die afgelope paar maande in die geheim toegepas is, verhoed mense om op enige manier ’n skuiling te bou of om in sekere plekke te slaap. Dit verhoed enigiemand om op enige manier openbare sypaadjies te blokkeer en enige goedere daar te los,” lui die verklaring.

’n Boete van R300 kan hiervoor opgelê word en indien jy vuur in ’n openbare plek maak, kan jy ’n boete van R1 500 opgelê word.

Nadel glo omdat Suid-Afrika ’n ontwikkelende land is, sal daar armoede wees, maar dat dit irrasioneel en onderdrukkend is om sulke verordeninge toe te pas.

“Die idee dat hierdie verordening openbare veiligheid en misdaad verhoed, dra geen gewig in ons huidige Grondwet nie,” lui die verklaring.

’n Spesifieke klas van mense word weens hul status, armoede en haweloosheid geteiken. Dit skei almal en ondermyn die integriteit van mense, lui die verklaring.

Nadel wil ook as ’n vriend van die hof toegelaat word in die Gautengse saak waar die Centre for Child Law die minister van basiese onderwys hof toe geneem het oor ongedokumenteerde kinders se toegang tot onderrig.

Die saak is reeds in 2017 begin.

Kinders moet al die nodige dokumente hê, veral as hulle asielstatus het en migrante is, om tot skole toegelaat te word. In baie gevalle het kinders nie hierdie dokumente nie en kan hulle dus nie skoolgaan nie, sê Nadel. Volgens Nadel is dit baie onregverdig teenoor kinders van landelike gebiede wie se ouers nie toegang tot geriewe het om die nodige dokumente te kry nie.

Meer oor:  Haweloses  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.