Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regsman en nog 4 vas oor diefstal

’n Pretoriase prokureur en vier medebeskuldigdes het die afgelope week in die hof verskyn nadat hulle betrap is waar hulle glo besig was om 179 beeste ter waarde van R1,8 miljoen op ’n vragmotor te laai.

Die prokureur Jan-Spruyt Steenkamp (32).

Dié arrestasie word beskou as ’n deurbraak in ’n uitgebreide ondersoek na ’n vlaag veediefstalle in die Ermelo-omgewing.

Bester Maree (33), ’n bestuurder van die plaaslike sekuriteitsmaatskappy ACLU, sê hulle het saam met drie boere van die Hendrina-omgewing en die polisie die verdagtes Dinsdagoggend naby Breyten in Mpumalanga voorgelê. 14 verdagtes is aangekeer, maar uiteindelik is net die prokureur Jan-Spruyt Steenkamp (32), Cornelius Johannes van der Walt (55), Lucas Magagula (35), Sibusiso Mabuse (34) en Vusi Mhlongo (34) gearresteer en het in die hof verskyn.

Maree sê hulle het in die afgelope drie weke vier nagte op verskillende plase gewag nadat hulle vroeër inligting oor beplande diefstalle by lede van die plaaslike gemeenskap gekry het.

Cornelius Johannes van der Walt (55). Foto’s: Wikus de Wet

In een van die nagte het veediewe die plaas se hekketting geknip, maar die boer se stroper het voor die drukgang gestaan en hulle is ongedane sake weg, sê Bester.

Maandag was ACLU se span op Kromkrans ontplooi toe vier verdagtes omstreeks 19:00 daar opdaag. Hulle het die veewagters – twee mans en ’n vrou – aangerand en vasgebind, sê Maree. Maree, saam met twee toesighouers en ’n bestuurder van ACLU, het hulle van ’n afstand af dopgehou terwyl vier van ACLU se wagte in die veld sowat 100 m van die drukgang af weggekruip het.

“Van waar ons gewag het, kon ek die boonste dele van die drie trokke met ’n verkyker sien, maar ons was deurentyd in kontak met die vier wagte in die veld,” sê Maree.

Lucas Magagula (35)

Maree en sy span het deurnag die verdagtes dopgehou totdat drie vragmotors en ’n silwer dubbelkajuitbakkie Dinsdagoggend halfagt daar opgedaag het. Van der Walt en Steenkamp was glo in die bakkie. Hulle het die beeste begin oplaai.

“Die tweede vragmotor was teen omtrent 09:15 klaar gelaai. Ons het toe gewag totdat die derde trok halfpad gelaai was voor ons toegeslaan het,” sê Maree.

Toe Maree die teken gee, het drie boere van Hendrina, wat elders gewag het, en twee polisielede by hulle aangesluit.

R95 000 is by die vermeende veediewe gekonfiskeer.

“Steenkamp het dadelik sy pistool oorhandig en plat gaan lê toe ons hom beveel om dit te doen, maar Neels van der Walt het geweier om te gaan lê.

“Hy het gesê hy is te oud om in die stof te lê en het op die klap van die bakkie gaan sit,” sê Maree.

Die polisie het beslag gelê op R95 000 kontant en die beskuldigdes se selfone. Drie van die verdagtes het weggehardloop, maar is later aangekeer.

Die beskuldigdes kan op 17 Mei vir borgtog aansoek doen.

Meer oor:  Veediefstal  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.